Ek sit met ’n groot vriend en praat groot kopstukke van die lewe. Ons praat vergeet en onthou. Ons praat vlam en ruimte.
’n Vlam het ruimte nodig om asem te haal. Ruimte nodig om te brand. Maar hierdie ruimte kan nie ’n leë plek wees nie, want ’n leë plek is ’n onveilige plek. ’n Leë plek is ’n bang plek, gevul met vrees. ’n Plek waar chaos heers.
Hierdie ruimte moet gevul wees met vertroue. Vertroue is geloof. Om oortuig te wees van die dinge wat ons hoop, seker te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Dit maak vertroue nie naïef nie, maar gegrond. Gegrond in liefde. Gegrond in waarheid en verantwoordelikheid. ’n Ruimte met grense en ’n ruimte wat konsekwent is. ’n Ruimte wat veilig is. Waar ’n vlam kan brand, sonder om uitgedoof te word. Waar ’n vlam kan brand sonder om te verwoes en te vernietig.
’n Vlam wat betekenisvol brand. ’n Vlam wat kies om die waarheid te konfronteer. Aanspreeklikheid te aanvaar en verantwoordelikheid neem. Wat grootheid sien en nastreef en besef dat die vorming van jou toekoms in jou hande lê, soos die keuses wat jy maak, die besluite wat jy neem. Maar dit verg moed. Om te kies om nie weg te kyk wanneer iets moeilik is nie, maar om dit in deursettingsvermoë na te streef.
Dit is meer as aspirasie. Dit is aksie. Dit is meer as droom. Dit gee rigting, strategie en bestemming. En ek begin dink met al die oop ruimtes in my lewe. Ek begin dink aan al die oop ruimtes van die lewe. Waar is hierdie ruimtes? Wat maak ons elke dag daarmee?
Ek begin dink aan die ruimte in ’n verhouding. Verhouding met ’n lewensmaat, ’n kind, ’n vriend, ’n kollega. Leer ons ons kinders genoeg oor die ruimtes? Dat ruimtes nie leeg gelaat moet word nie, maar gevul moet word met wat goed en edel is? Ek dink aan al die ruimtes van vryheid. Is dit ruimtes van vryheid of engtes van ballingskap? Het die ruimtes opgerig, gebou of het die ruimtes afgebreek en vernietig? Want vryheid sonder grense is ballingskap, en is dit nie waar ons ons dikwels bevind nie? Ons sien dit selfs in die politiek. Ruimtes wat meer neem as gee.
Ek begin dink aan die ruimtes, die oop ure in ’n dag. Wat maak ek met daardie ruimtes? Skep ek in daardie ruimtes. Dra ek by of neem ek weg? Is die vul van die ruimte nie juis wat betekenisvolheid is nie? Is dit nie wat maak dat ons sommige mense onthou en ander vergeet nie? Dit wat hulle met hulle ruimtes gemaak het terwyl hulle geleef het en die ruimte wat hulle vir ander nagelaat het.
Was hulle ruimtes plekke waarin lewe was? Plekke wat lewegewend was? Of was dit plekke wat versmoor het? Was hulle ruimtes plekke waarin jy kon groei of waarin jy verwelk het? Was hulle ruimtes plekke waarin geskep is of verwoes is? Was hulle ruimtes doelloos of doelgerig? Was hul ruimtes plekke van duidelikheid waarin jy jouself kon vind of was dit doolhowe waarin jy ewig verdwaald was.
As iemand eendag langs jou grafsteen staan, wat sou hul sien as hulle daarna kyk? Net ’n naam? Net nog ’n naam, tussen ’n klomp ander name? Of was jy iemand wat vir iets gestaan het? Steeds staan? Iemand wie se ruimtes nie leeg nie, maar vol? Iemand se ruimtes wat soos woorde van lig was? Wat ewig dag en nag van mekaar in die harte van ander kon skei? Wat ’n nalatenskap gelaat het waarin ander kan leef, beweeg en bestaan? Kan skep?
Want dit is wat liefde doen. Dit is wat Liefde doen. Dit is wat God doen. Van die begin af doen. Steeds doen. Die aarde was woes en leeg. Duisternis op die wêreldvloed. En sy Gees het op die waters gesweef. Die ruimte was nie leeg nie. En Hy het gesê: Laat daar lig wees! Die ruimte was nie leeg nie, maar lig. Die lig was goed en God het skeiding gebring tussen lig en duisternis. En so het God die aarde en alles daarin geskep, en aan ons die Woord, sy Seun, sy Gees gegee. Aan ons hierdie ruimte nagelaat. Nie as weeskinders nie, maar met ’n Helper. Wat is dit wat ons met hierdie ruimte maak?
Ek sal vir altyd anders na ruimtes kyk. Want ’n vlam het ruimte nodig om asem te haal. Ruimte nodig om te brand. Maar hierdie ruimte kan nie ’n leë plek wees nie, want ’n leë plek is ’n onveilige plek. ’n Leë plek is ’n bang plek, gevul met vrees. ’n Plek waar chaos heers.
En my gedagtes sluit af met die woorde van NP van Wyk Louw: “Dan weet ek het jou hand my jeug se oopgelate kring voltooi: mooi is die lewe en die dood is mooi.”
Alta Strauss is breinprofielpraktisyn, motiveringspreker en skrywer.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/11/NUUSWEEK-Uitgawe-94-20-Nov-2026.pdf