Luister nou

Slagoffer van plaasaanval wil God loof en prys

Deur Seugnet van Zyl

Donovan Marx, wat twee weke gelede wreed op sy plaas in die Ventersdorp-omgewing aangeval is, wil uit dankbaarheid vir sy herstel God loof en prys.

Die slotwoord van Psalm 150, ’n loflied wat gelowiges oproep om God vir sy magtige dade en grootheid te prys, lê Marx veral na aan die hart.

“Laat alles wat asem het, die Here loof! Halleluja!” is die boodskap wat Marx en sy vrou, Louise, die week met die publiek wil deel.

Aanvallers het Marx (50), ’n beesboer, op 28 Oktober in die bolyf geskiet en hom daarna in die huis gesleep, sy hande met kabelbinders vasgemaak en hom na bewering met ’n mes in die been gesteek, sy ore afgesny en hom verder aangerand. Sy ore kon nie ná die aanval geheg word nie al het hy twee werkers, wat sy hulpkrete gehoor het, gevra om dit in ’n yskas te bêre.

Die vier verdagtes, wat verlede week op aanklagte van poging tot moord met verswarende omstandighede, roof met verswarende omstandighede, aanranding, die besit van ongelisensieerde vuurwapens, die onwettige besit van ammunisie en die rig van ’n vuurwapen in die Ventersdorp-landdroshof verskyn het, vra almal borgtog.

Marlene Steyn du Toit, regsverteenwoordiger en woordvoerder van die Marx-familie, sê in ’n verklaring wat Woensdag uitgereik is, dat Marx merkwaardige vordering toon.

“Hoewel sy herstelproses voortduur, is hy en die familie besonder dankbaar vir die positiewe ontwikkeling in sy gesondheidstoestand.”

Steyn du Toit het ook ’n onlangse foto van Marx en Louise saam in die hospitaal gedeel om nie net sy fisieke herstel te wys nie, maar dit dien ook as ’n getuienis van geloof, hoop, gebed en die buitengewone ondersteuning wat hulle ontvang het.

Die egpaar skryf sy herstel in die eerste plek toe aan die genade en ingryping van hulle Hemelse Vader, asook die buitengewone toewyding van die mediese personeel wat hom versorg. Hulle betuig hul diepste waardering teenoor die dokters, verpleegpersoneel en ander gesondheidswerkers van die Mediclinic Potchefstroom.

’n Video van Marx waar hy met ’n kitaar in die hand sing, is kort nadat die verklaring uitgereik is op sosiale media gesirkuleer, byna asof om te wys hoe hy weer die Here met sang en musiek sal loof en prys sodra hy gesond is.

Marx sing “Al die lof en al die eer kom U toe” vir ’n groep bejaardes in die video.

Marx en Louise het die boeregemeenskap van Ventersdorp en omliggende gebiede weereens vir hulle ondersteuning bedank en hulle dank opnuut uitgespreek teenoor die lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat by die ondersoek onder die leiding van kapt. Bonita Dry betrokke is.

Hulle waardeer die ondersoekspan se vinnige reaksie, harde werk, deursettingsvermoë en toewyding sedert die aanval.

“Daar is eintlik nie genoeg woorde om ons dankbaarheid te beskryf nie. Ons het die afgelope twee weke liefde en ondersteuning beleef op ’n manier wat ons nooit sal vergeet nie. Ons glo dat die Here se hand deur hierdie hele pad oor ons was. Ons is ongelooflik dankbaar vir elke dokter, verpleegkundige, familielid, vriend en onbekende persoon wat vir ons gebid, ons ondersteun en ons gehelp het. Julle het ons geestelik en fisiek gedra. Julle het ons staande gehou. Ons is positief oor die toekoms en sien met geloof en verwagting uit daarna om te beleef hoe God se Naam deur alles wat gebeur het, verheerlik gaan word. Uit die diepte van ons harte: baie, baie dankie,’’ lui hulle boodskap.

Ian Cameron, voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie, sê die goeie polisiewerk in hierdie saak verdien erkenning.

“Dis baie belangrik dat ons die polisie bly ondersteun met die werk wat hulle in hierdie saak doen.”

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/11/NUUSWEEK-Uitgawe-93-13-Nov-2026.pdf

Gewilde Nuus

Fotokrediet: KI gegenereer

Linkse partye stig gesamentlike politieke blok

Tatjana Smith

Swem SA bieg: Dit was ’n fout om Tatjana se prysgeld te weerhou

Luggehalte

Oorsprong van stank in Gauteng ondersoek

Fotokrediet: SwimSwam

Nog ’n Suid-Afrikaanse swemmer oorweeg ’n internasionale skuif

Hlabisa - YFM

Hlabisa maak nuwe riglyne bekend teen uitdagings

Ander Nuus Artikels

jpg (1)
Koalisies: Enige scenario is moontlik
Graffiti-logo-nuut
Graffiti-boekeblad 13 November 2026
Fotokrediet: KI gegenereer
Linkse partye stig gesamentlike politieke blok
Tatjana Smith
Swem SA bieg: Dit was ’n fout om Tatjana se prysgeld te weerhou
Luggehalte
Oorsprong van stank in Gauteng ondersoek

Luister nou