140 van die 517 voertuie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Blitspatrollie-eenheid is tans nie bruikbaar nie. ’n Parlementêre vraag van die DA het aan die lig gebring dat slegs 377 van die voertuie landswyd in gebruik is, wat ernstige vrae laat ontstaan oor die SAPD se vermoë om op noodgevalle en ernstige misdaad te reageer.
Die DA se adjunkwoordvoerder oor polisie, Ian Cameron, sê die syfers dui op ’n verouderde vloot met hoë kilometers. 280 van die voertuie het reeds meer as 200 000 kilometer afgelê. Dit sluit in 166 voertuie wat op tussen 200 000 en 300 000 kilometer staan en 114 wat reeds meer as 300 000 kilometer afgelê het.
56 van Gauteng se 220 voertuie is nie in gebruik nie terwyl 15 van Noordwes se 32 voertuie nie in gebruik is nie. 13 van die 37 voertuie in die Oos-Kaap is buite aksie terwyl 10 van die 32 voertuie in Mpumalanga nie in gebruik is nie.
Cameron sê hierdie tekorte ondermyn ’n spesialiseenheid in die SAPD in ’n tyd waarin gemeenskappe deur geweldsmisdade en bendegeweld geteister word.
“Die SAPD kan nie bekostig dat soveel voertuie onbeskikbaar is of staatmaak op ’n vloot met sulke hoë kilometerlesings nie.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-90-30-Okt-2026.pdf