Die voorsitter van die parlement se polisiekomitee, Ian Cameron, doen ’n beroep op president Cyril Ramaphosa om minister Senzo Mchunu uit sy amp te verwyder weens die koste van sy salaris en regskoste vir die staat.
Cameron sê dié uitgawes beloop tot dusver sowat R5,86 miljoen sedert Mchunu in Julie verlede jaar op spesiale verlof geplaas is.
Dit sluit R2,7 miljoen in wat die departement van justisie aan sy regskoste betaal het.
Cameron meen dit is duur om Mchunu in die kabinet te behou terwyl Firoz Cachalia as waarnemende minister optree.
Hy sê Ramaphosa kan Mchunu uit die kabinet verwyder sonder dat dit ’n strafregtelike skuldigbevinding impliseer.