Luister nou

VSA-debat jaag temperature op

Deur Redaksie

Die VSA se ambassadeur in Suid-Afrika word ingeroep, 3 000 wit kruise word in Washington, DC geplant en die Solidariteit Beweging maak vyf antwoorde op die VSA se vyf versoeke bekend. En terwyl die gebeure afspeel, kom dit aan die lig dat Suid-Afrika se minister van Openbare Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, se uitsprake by die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies gelei het tot ’n swaard oor Suid-Afrika se voortgesette deelname aan die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (AGOA).

Intussen het die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika bevestig dat die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking diplomatieke stappe teen die Amerikaanse ambassadeur, Leo Brent Bozell III ingestel het. Dit volg nadat Bozell Pretoria in ’n openbare verklaring gevra het om aan vyf eise van die Trump-administrasie te voldoen. Die vyf eise sluit in die beskerming van eiendomsregte, die omkeer van die Onteieningswet en veranderinge aan die beleid oor breëbasis- swart ekonomiese bemagtiging in.

Washington wil ook hê die regering moet die “Kill the Boer”-lied veroordeel en stappe doen om veiligheid op plase en in landelike gebiede te verbeter.

Terwyl die VSA wag op antwoorde op die eise wat aan die Suid-Afrikaanse regering gestel word, het die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys, die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel, en die uitvoerende hoof van Solidariteit, dr. Dirk Hermann die afgelope week tydens ’n mediakonferensie vyf antwoorde op die VSA se vyf versoeke bekendgemaak.

Die Solidariteit Beweging sê in ’n gesamentlike mediaverklaring dat dié instellings se vyf antwoorde ten doel het om oplossings vir die politieke en diplomatieke geskil tussen die twee lande te vind.

“Ons is daarvan oortuig dat dit in Suid-Afrika se nasionale belang is om goeie betrekkinge met die VSA te handhaaf, net soos met ander moondhede. Die doel van die antwoorde is nie net om handelsbetrekkinge te herstel nie, maar ook om oplossings vir kritieke brandpunte in Suid-Afrika te vind. Ons wil dit duidelik stel dat ons uitgangspunt is om Suid-Afrika se kant te kies, en nie dié van die Withuis of Luthuli-huis nie. Ons voel ook sterk oor die handhawing van Suid-Afrika se soewereiniteit, maar glo dat dit nie gelyk gestel kan word aan die ANC se soewereiniteit nie. Kiesers het vir ʼn regering van nasionale eenheid (RNE) gestem. Ons glo as die ander partye in die RNE by die formulering van buitelandse beleid betrek word, ʼn oplossing vinnig binne die raamwerk van die Grondwet en ʼn onverbonde buitelandse beleid gevind sal kan word.”

Die Solidariteit Beweging se antwoorde kan soos volg opgesom word:

Raswette

Die regering moet instem dat raswette, soos wat internasionale konvensies bepaal, uitgefaseer word. Intussen moet rasneutrale ekwiteitsekwivalente, wat eienaarskapsvereistes vervang, vir sowel multinasionale as plaaslike maatskappye aanvaar word. Die ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering, wat onder toesig van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) bereik is, en wat beperkings op raswette in die werkplek plaas, moet in die Staatskoerant gepubliseer word.

Rasneutrale metodes van werknemerbemagtiging sal as voorkeurmeganismes vir bemagtiging deur eienaarskap aanvaar word. Mense se sosio-ekonomiese posisie, eerder as ras, sal gedurende die uitfaseringsproses as maatstaf gebruik word. Jongmense wat ná 1994 gebore is, sal ook as deel van die aangewese groep beskou word.

 

Landelike veiligheid

Die regering sal plaasmoorde en ander misdaad in plattelandse gebiede, soos bendegeweld en renosterstropery, tot prioriteitsmisdade verklaar. ʼn Amptelike gemeenskapveiligheidsvennootskap moet gestig word waarin die SAPD, die privaat veiligheidsbedryf en gemeenskapsorganisasies soos AfriForum gelyke verteenwoordiging sal hê.

Die SAPD se bestaande landelikebeveiligingstrategie moet uitgebrei word om veel groter betrokkenheid deur gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe moontlik te maak. AfriForum het reeds ʼn omvattende gemeenskapsveiligheidsplan vir landelike veiligheid opgestel en aan die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse regerings oorhandig. ʼn Nasionale gemeenskapsveiligheidsforum sal gestig word om die uitvoering van die Beveiligingsplan te monitor. Die Amerikaanse regering sal deur die forum met befondsing, kundigheid en die verskaffing van toerusting help.

 

“Kill the Boer”

Die sing van “Kill the Boer” is, in die hedendaagse konteks, een van die ernstigste brandpunte. Daar moet ooreengekom word dat pres. Ramaphosa en senior regeringsleiers die sing van “Kill the Boer”, asook enige ander haatverwante slagspreuke teen minderhede, onvoorwaardelik sal veroordeel.

Ons belewing is nie dat ʼn grootskaalse regeringsgedrewe volksmoord (In Engels: genocide) hier plaasvind nie, maar ons ervaar wel dat die ANC Afrikaners se voortbestaan teiken deur omvattende raswetgewing, die onderspeling van plaasmoorde, aanvalle op ons taal en kultuur deur wetgewing soos BELA, en die verbreking van ooreenkomste wat die regering met ons daaroor aangegaan het.

 

Vlugtelingprogram

Die vlugtelingprogram bestaan reeds. Die regerings van die VSA en Suid-Afrika moet ooreenkom dat individue wat van die program wil gebruikmaak, toegelaat moet word om die proses sonder benadeling te volg. Minder as 1% van Afrikaners sal hulle waarskynlik in die VSA gaan vestig. Die Solidariteit Beweging is nie betrokke by hierdie program nie omdat ons glo dat ons toekoms in Suid-Afrika is en ons aan oplossings vir knelpunte hier werk.

Daar moet ooreengekom word dat ’n direkte kanaal tussen die Amerikaanse administrasie en die Solidariteit Beweging gevestig sal word, onder meer met die oog op die stigting van ’n Afrikanerontwikkelingsfonds. Dié fonds kan help met die ontwikkeling van opleidings- en kulturele infrastruktuur vir die Afrikanergemeenskap.

Gesprekke sal ook tussen die Solidariteit Beweging en die Amerikaanse administrasie gevoer word oor die uitvoer van vaardighede na daardie land deur middel van aanlyn werk, sonder dat mense Suid-Afrika hoef te verlaat.

 

Onteiening sonder vergoeding

Die regerings van die VSA en Suid-Afrika neem kennis van die hangende hofsaak in dié verband, maar is steeds van mening dat ʼn skikking verkieslik is bo ’n hofsaak. In die lig hiervan moet artikel 12(3) van die Onteieningswet geskrap word. Artikel 19(2) moet gewysig word om te voorkom dat grond onteien word voordat ʼn hof ’n finale beslissing gelewer het. Verdere wysigings moet aangebring word om te verseker dat eiendomsreg beskerm word soos deur die Suid-Afrikaanse Grondwet bepaal.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-86-02-Okt-2026-1.pdf

Gewilde Nuus

Fotokrediet: The Citizen

Tshwane-metro bied spesiale vlugte vir bejaardes by lughawe

Thoughtful Portrait Among Bookshelf Shelves

Nee Kemp, regses is ook onverdraagsaam

Senzo Mchunu - The Witness

Die OB ondersoek Senzo Mchunu

Fotokrediet: Checkatrade

Die Tshwane-metro wil die krag teen vanaand herstel

Siviwe Gwarube - Daily Maverick

Minister word aangewys as een van TIME se 100 Next-leiers vir 2026

Ander Nuus Artikels

Willie Spies
VF Plus soek kundiges om kragonderbrekings te bekamp
Graffiti-logo-nuut
Graffiti-boekeblad 2 Oktober 2026
Fotokrediet: The Citizen
Tshwane-metro bied spesiale vlugte vir bejaardes by lughawe
Thoughtful Portrait Among Bookshelf Shelves
Nee Kemp, regses is ook onverdraagsaam
Senzo Mchunu - The Witness
Die OB ondersoek Senzo Mchunu

Luister nou