Alta Strauss
Het jy al ooit gevoel soos die ou troosprysie? Asof jy iets misloop in die lewe wat jy nooit gehad het nie? Asof jy nooit die een was wat gekies is nie. Nie die gunsteling was of ooit heeltemal gehad het wat dit verg nie. Die een wat net altyd daardie klein bietjie tekort skiet?
Soms het verwerping niks te make met jou waarde of jou vermoë nie. Soms laat die Here hierdie dinge toe sodat ons kan sien waarin ons ons vertroue plaas en waaraan ons ons waarde meet.
So eienaardig as wat dit mag klink, gebeur dit dat ons baie maal hunker na iets wat ons dink die ideaal behoort te wees. Daardie prentjie wat ons in ons kop gehad het van die perfekte lewe en die perfekte jy. Of wie jy dink, ander dink, jy moet wees of wat hulle verwagting vir jou was.
Die gevolg is dat jy dan, selfs al het jy ’n pragtige en wonderlike lewe en is jy ook hoe suksesvol, steeds voel asof jy iets misgeloop het wat jy moes hê, of iemand misgeloop het wat jy moes wees. Iets of iemand wat nooit was nie. Die hartseer hiervan is dat hierdie ervaring jou weerhou daarvan om die mooi van jou lewe in hierdie nou-oomblik te sien en die wonder van wie jy nou is, te vier.
Het jy al ooit regtig jou afgevra, wat as hierdie plek waar ek nou is en wie ek nou is selfs beter is! Of… Wat as hierdie fase waarin ek my tans bevind, voorbereiding is vir dit wat kom. Iets mooier as waarvan jy ooit sou kon droom, bid of hoop!
Ons vergeet baie maal dat niks ons van God se liefde vir ons kan skei nie. Dat God se liefde vir ons nie verander wanneer ons met emosies stoei nie. Dat Hy beloof dat Hy nooit sy beloftes, roeping en talente sal terugneem nie. Dat Hy belowe dat Hy alles ten goede sal laat meewerk. Selfs al werk dinge nie altyd uit soos ons dit beplan of dink die beste is nie.
Wat as dit presies die kosbare les is wat Hy jou in hierdie seisoen wil leer? Dat jou waarde nie deur die goedkeuring of afkeer van ander bepaal word nie. Dat jy nie liefde nodig het nie, maar dat jy alreeds geliefd is. Dat die afwesigheid van erkenning nie beteken jy is vergeet nie. Dat jy dalk nie altyd alles verstaan nie, maar dat dit nie beteken dat alles verlore is nie.
Baie maal wil ons hê dat God ons in sy perfekte wil en plan vir ons lewe moet inneem, maar ons wil bly vashou aan die ou gewoontes of mense wat nie deel is van die plek of posisie waarheen Hy ons wil neem nie.
Vertrou God in hierdie fase van jou lewe. Vertrou Hom volkome. Hou wag oor jou gedagtes en dit wat in jou hart omgaan. Vra jouself, meet ek my waarde aan die opinie van ander of dalk my eie twyfel, of aan God se Woord en sy liefde en sy trou? En elke keer as jy twyfel in God se plan en aan Hom probeer voorskryf, word stil en sê: “Here, ek kies om U te vertrou. Ek weet U weet beter. Wys my die pad en ek sal daarlangs stap.”
Soms laat God toe dat daardie fondasie wat nie sy plan vir jou lewe kan dra nie, wankel en inmekaar val. Soms laat God toe dat dit jou teleurstel en dat daardie teleurstelling jou seermaak, sodat jy opnuut kan besef jy is ’n stad op ’n berg, nie ’n krot in ’n moeras nie. Jy is bedoel om op hoë plekke te loop, nie in dryfsand te spartel nie.
Wees die jý wat God jou geroep het om te wees. Die één wie se lig net helderder en helderder skyn hoe donkerder dit raak. Die één wat nie die lof van ander nodig het om onmisbaar te wees nie. Die één wat nie weggesteek kan word nie, ongeag of iemand jou erkenning of goedkeuring gee of nie. Die één wat onvergeetlik bly omdat God jou naam ken!
Jy is nie ’n troosprysie nie! Jy is uitverkore, geroep tot grootsheid en presies waar jy moet wees! Jou lewe is nie ’n mislukking net omdat dit nie verloop het presies soos jy gedink het dit moes nie. Dit lyk maar net ’n bietjie anders, dis al. Wat belangriker is, is dat jy reeds alles het wat jy nodig het om dit die beste lewe ooit te maak!
Laat alles los wat jou terughou om God se deel vir jou in besit te neem. Mag jy die buitengewone guns en goedheid, kreatiwiteit en wysheid, insig en strategie uitleef wat God alreeds in jou geplaas het. En mag jy God waarlik en waaragtig in alles vertrou!
Alta Strauss is breinprofielpraktisyn, motiveringspreker en skrywer.