Die Nasionale Tesourie sê hy gaan streng optree teen munisipale amptenare wat verantwoordelik is vir nagenoeg R151 miljard se ongemagtigde, onreëlmatige en verkwiste besteding.
Volgens die ouditeur-generaal Tsakani Maluleke het Suid-Afrika se 257 munisipaliteite, miljarde rand in onreëlmatige en verkwiste uitgawes aangegaan, met die grootste deel in onreëlmatige besteding.
Die Tesourie sê die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur maak dit moontlik om individue, insluitend amptenare en politieke ampsdraers, aanspreeklik te hou wanneer nalatigheid of wangedrag tot verliese lei.
Die departement sê munisipaliteite moet nie net onreëlmatighede rapporteer nie, maar ook bepaal wie verantwoordelik is en fondse probeer verhaal.