Die burgerregteorganisasie AfriForum waarsku dat die geweld wat met plaasaanvalle gepaardgaan kommerwekkend toeneem, ondanks ’n geringe daling in sterftesyfers.
Minstens 184 plaasaanvalle en 29 –moorde is verlede jaar aangemeld. Die meeste aanvalle én moorde het in Gauteng plaasgevind.
AfriForum se plaasmoordeverslag toon dat byna 40% van die voorvalle lewensgevaarlike geweld insluit, onder meer marteling en verkragting. Bejaardes bly ook veral kwesbaar. AfriForum se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, beklemtoon dat die brutaliteit van hierdie aanvalle ’n bewys is dat dit nie bloot gewone misdaad is nie.
“Die 2025-verslag skets ’n kommerwekkende beeld van landelike veiligheid in Suid-Afrika en beklemtoon die kwesbaarheid van boere, hul gesinne, plaaswerkers en ander plaasbewoners,” sê Broodryk.
AfriForum doen ’n beroep op die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Valke) om plaasaanvalle tot ’n prioriteitsmisdaad te verklaar.
“Die versuim om sodanige klassifikasie te doen, belemmer pogings om dié misdaad doeltreffend te bestry. Gegewe die georganiseerde aard van plaasaanvalle en uiterste geweld wat daarmee gepaard gaan, voldoen plaasaanvalle aan die voorvereistes van ’n prioriteitsmisdaad”.