Kenners verwag nie dat die minister van finansies, Enoch Godongwana, ’n verhoging in Belasting op Toegevoegde Waarde sal aankondig wanneer hy vandag die begrotingsrede lewer nie.
Dit volg nadat openbare teenkanting en politieke druk verlede jaar ’n voorgestelde verhoging laat sneuwel het.
Die fokus sal na verwagting op die verbeterde invordering en doeltreffendheid deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens wees.
Sommige arbeidsgroepe eis intussen ondersteuning vir kwesbare sektore soos klere, tekstiele en skoene wanneer vanjaar se begrotingsrede vanmiddag gelewer word.
Plaaslike vervaardigers is onder druk weens strenger tariewe en ander uitdagings wat uitvoere raak, wat aanleiding gegee het tot fabriekssluitings, afleggings en dalende produksievermoë in die vervaardiging-, staal- en mynbou-bedryf.
Die vakbondfederasies, Fedusa, Cosatu en Saftu, sê die binnelandse nywerheid behoort herbou te word om werkloosheid te bekamp en staatsinkomste te stabiliseer.
Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê die begroting moet fokus op werk, ekonomiese groei, armoede-bestryding en die bekamping van misdaad en korrupsie.
Die begrotingsrede word vanmiddag om twee-uur by die Kaapstad Stadsaal gelewer.