Marelize Maré
President Cyril Ramaphosa het gister die Platreef-myn in Mokopane, voorheen Potgietersrus, in Limpopo geopen te midde van pogings om voordeel te trek uit Afrika se minerale.
Die myn is die wêreld se grootste onontwikkelde edelmetaalprojek.
Die presidensie het die opening van die myn as ’n B20-suksesverhaal beskryf wat tasbare buitelandse beleggings en industriële vooruitgang toon.
Die Business 20, of B20 dien as die amptelike G20-dialoogforum vir die globale sakegemeenskap.
Ramaphosa sê egter daar moet wegbeweeg word van die myn-na-hawe-praktyk waar die land rou materiale teen lae pryse ontgin en dit in globale markte verkoop, terwyl daar nie veel finansiële bydraes tot die plaaslike ekonomie gemaak word nie.
Daar sal platinum, palladium, koper en nikkel by die myn ontgin word.