Deur: Willie Spies
Die skrywer Dana Snyman vertel in sy boek In die Tyd van die Gif die verhaal van sy besoek aan oom Jerry Oosthuizen van Kleinbaai, Hermanus, vier jaar gelede.
Oom Jerry was destyds een van die laaste oorlewende polisiemanne wat die Sharpeville-tragedie 65 jaar gelede meegemaak het.
Hy het aan Snyman vertel dat hy destyds slegs 23 jaar oud was en ’n sersant, gestasioneer by die Moroka-stasie in Soweto. Hy het in die polisiebarakke in Kliptown gebly, toe hulle gehoor het daar word moeilikheid in Vereeniging verwag en dat die stasie in Sharpeville versterkings aangevra het.
Aan die begin van 1960 was die Mau-Mau-rebellie van Kenia waarin duisende Keniane omgekom het, nog vars in die geheue. In Januarie daardie jaar het Kenia vir die eerste maal ’n meerderheidsregering gekry ter voorbereiding van onafhanklikheid van koloniale bewind in 1963.
Die wreedheid van die Mau-Mau-rebelle het wêreldwyd opslae gemaak. Wit mense en swart mense wat beskou is as meelopers van die koloniale bewind, is met kapmesse aangerand en vermoor.
Op die Maandagoggend van 21 Maart 1960 het ’n polisievragmotor die jong oom Jerry en nog so twintig manne – die meeste van hulle swart konstabels – in Soweto opgelaai en Sharpeville toe geneem, minder as ’n uur se ry daarvandaan.
Almal van hulle wat die oggend soontoe is, was volgens oom Jerry bewus van wat slegs twee maande tevore, op 8 Januarie, in Cato Manor naby Durban gebeur het, toe nege polisiemanne – vyf swart, vier wit – wreedaardig deur inwoners doodgemaak is. Party van die lyke was so vermink dat die manne nie uitgeken kon word nie.
Rondom die polisiekantoor was ’n lae draadheining. Oom Jerry het aan Snyman vertel dat die polisiemanne by hulle aankoms net daar rondgestaan het.
Die skare wat geantwoord het op die PAC se oproep om teen die paswette te protesteer, het vinnig aangegroei tot tussen 5000 en 7000 mense. Sommige bronne praat van 20 000.
Daar was tussen 15 en 20 polisiemanne –deur hulle bevelvoerder, kolonel Pine Pienaar, aangesê om stelling in te neem teen die duisende protesterendes – ’n reuseskare wat gaandeweg al hoe meer oproerig geraak het.
Die gemaal van die skare het tot gevolg gehad dat die voorste betogers deur die res van die skare gestoot is, sodat die lae draadheining omgestoot is.
Op geen stadium is ’n bevel gegee om te skiet nie, maar skielik het ’n klip of ’n baksteen die polisieman reg langs oom Jerry in die maag getref. Instinktief het die polisieman wat deur die klip getref is, die sneller getrek, wat gelei het tot ’n kettingreaksie van die 20 hoogs gespanne polisiemanne wat vir enige iets tussen 20 en 40 sekondes begin skiet het.
Die enigste bevel wat wel gegee en gehoor is, was die bevel om vuur te staak.
69 mense is daardie dag dood en 179 gewond of beseer.
So vertel Dana Snyman die verhaal van 20 of 40 sekondes wat, soos hy dit stel, nou al vir 65 jaar aanhou.
Negentien dae ná die gebeure by Sharpeville, het ’n welgestelde boer en lid van die Liberale Party, David Pratt, die eerste minister, dr Hendrik Verwoerd, by die opening van die Randse Paasskou in Johannesburg met ’n .22-pistool probeer doodskiet. Hy het die gebeure by Sharpeville aangevoer as rede vir sy woede teenoor Verwoerd en motief vir sy poging om Verwoerd te vermoor.
Verwoerd het herstel van die twee skote wat hom in die gesig getref het, en Pratt is ’n jaar later dood in die psigiatriese hospitaal waar hy aangehou is.
Die verhaal van Suid-Afrika en die verhale wat ons ook vandag op Menseregtedag onthou en oorvertel, is verhale wat mense en gemeenskappe se optrede rig.
Dis verhale waarin daar nie net wenners en verloorders of net goeie en slegte mense is nie, maar wel verhale van oorlewing, vrees en werklikhede van die tyd waarin die verhale afspeel.
Wanneer die gebeure van 21 Maart 1960 beoordeel word, moet dit gedoen word met ’n deeglike bewustheid dat ons alleen ’n persoon of gemeenskap se dade billik en na behore kan beoordeel as ons eers geloop het in die skoene van daardie persoon of gemeenskap.
Spies is verbonde aan die prokureursfirma Hurter Spies Ing en die uitvoerende voorsitter van Pretoria FM se direksie.
4 Responses
Baie Dankie Willie dit bly in n mense se agterkop altyd sal daar ooit Ordelike Respek en Vrede wees tussen mense oor die Verlede se Gebeure.
Marikana is en was baie erger. Maar hulle sal dit nooit erken nie.
Die ware betekenis van “Shoot The Boer” liedjie is die volgende
Shoot the Boer
Shoot shoot
The cowards are scared
Shoot shoot
Mother leave me be
Oh mother
These dogs are raping
Shoot shoot
We want to starve of hunger
Shoot, shoot the boer
Die manier van dink oor sake en kwessies verskil drasties volgens die verskille in kultuur en ideologie. Meeste Afrikaners dink nie op die wyse wat die swart meerderheid oor sake dink nie, weens verskil in kultuur. Ek dink die geweld teen die vyandige en oproerige skare was regverdigde optrede. ‘n Vyandige skare van 10 000+ teenoor 20 polisiemanne is geen ”rocket science” nie. Die wrede moorde op 9 polisemanne by Cato Manor was die waarborg dat dieselfde weer by Sharpville sal gebeur. Daar was geen ander opsies in die omstandighede nie.