Luister nou

VSA slaan hele paar geopolitieke vlieë met een klap

Deur Pretoria FM Nuusspan

Jaco Kleynhans

Die meesterlike militêre operasie, amptelik bekend as “Operasie Absolute Resolve”, wat op Saterdag 3 Januarie deur die Amerikaanse weermag uitgevoer is en waartydens die president van Venezuela, Nicolás Maduro, en sy vrou in hegtenis geneem is, was veel meer as die blote verwydering van nóg ʼn Latyns-Amerikaanse despoot – iets wat die Amerikaners reeds talle kere in die verlede gedoen het. Dit was ʼn doelbewuste geopolitieke meesterskuif, met ingebedde boodskappe aan veral China, Rusland en Iran oor die Verenigde State van Amerika (VSA) se dominansie in die Amerikas, maar ook oor die Trump-administrasie se bereidwilligheid om ontwrigtende, anti-Amerikaanse alliansies ferm aan te spreek.

Maduro en sy vrou staan tans tereg in ʼn federale hof in New York op klagtes wat onder meer met dwelmhandel verband hou. Die Amerikaanse regering se besluit, reeds maande gelede, om Maduro in Venezuela in hegtenis te neem, was egter op veel meer as net dwelmverwante oortredings geskoei. Die operasie van verlede Saterdag het uiteindelik die toon daargestel vir die geopolitieke magspel wat in 2026 verwag kan word.

Die afgelope paar dae het ʼn breë koalisie van sogenaamde anti-Trumpers (diegene wat fout vind met enigiets wat Trump doen), sosialiste en kommuniste met ʼn vreemde heldeverering vir Maduro – dink maar aan president Cyril Ramaphosa wat hom ʼn tyd gelede as sy “broer” beskryf het – asook hoogdrawende akademici, kommentators en politieke leiers wat hulself bekommer oor die sogenaamde “internasionale regsorde”, luidkeels teen die operasie beswaar gemaak.

Die werklikheid is egter eenvoudig: Maduro was ʼn tiran. Hy het terreurgroepe, soos Hamas en Hezbollah, sowel as die regime in Iran, direk ondersteun. Hy het geweier om die uitslag van ʼn demokratiese verkiesing – waarin hy verloor het – te aanvaar en het ʼn aktiewe rol in die destabilisering van verskeie Latyns-Amerikaanse lande gespeel. In sy eie land was hy verantwoordelik vir die onderdrukking, gevangeneming, marteling en moord op duisende opposisielede.

Die afgelope paar jaar het ongeveer agt miljoen mense, uit ʼn totale bevolking van sowat 30 miljoen, Venezuela as vlugtelinge verlaat. Dit is meer as die aantal Siriërs wat hul land tydens ʼn bloedige en vernietigende burgeroorlog moes ontvlug. Venezuela se ekonomie het oor die afgelope dekade met bykans 80% gekrimp – nie weens internasionale sanksies nie, soos linkses graag beweer, maar as direkte gevolg van Maduro se diktatoriale beleid.

António Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies en self iemand wat sy politieke tande in Portugal se sosialistiese politiek geslyp het, het ná die Amerikaanse operasie gesê hy is “diep bekommerd dat die reëls van internasionale reg nie gerespekteer is nie.” China het die optrede as ʼn “duidelike skending van die internasionale reg” bestempel. Rusland het dit beskryf as ʼn “daad van gewapende aggressie”, en die terreurgroep Hamas het verklaar dat dit ʼn “ernstige skending van internasionale reg en ʼn aanval op die soewereiniteit van ʼn onafhanklike staat” verteenwoordig. Die skynheiligheid is verstommend.

Die Suid-Afrikaanse regering het intussen sy ongekende vermoë om skynheiligheid, dubbele standaarde, ʼn algemene afkeer van die VSA en die Weste, asook oordrewe idees oor sy eie geopolitieke invloed, ten toon gestel deur die operasie heftig te veroordeel en het selfs ʼn dringende vergadering van die VN se Veiligheidsraad versoek. Dit is dieselfde regering wat tjoepstil bly terwyl die ajatollas in Iran betogers doodskiet en meer as 2 000 opposisielede verlede jaar tereg gestel het. Dit is ook dieselfde regering wat geen woord spreek oor China se onderdrukking van minderhede, sy skending van buurlande se soewereiniteit of Rusland se brutale, vernietigende oorlog in Oekraïne nie.

Die Wall Street Journal se redaksie vra tereg of internasionale reg nou die beste vriend van tiranne geword het. Dit was immers president Trump se voorganger, Joe Biden, wat ʼn losprys uitgeloof het vir enige inligting wat tot Maduro se inhegtenisneming sou lei. Nadat Edmundo González die 2024-verkiesing in Venezuela gewen het, het Biden, bykans elke Westerse leier en ook Guterres self verklaar dat González as die de facto leier van Venezuela beskou moet word. González het verlede Saterdag se Amerikaanse operasie openlik gesteun – ʼn feit wat ‘n groot gat skiet in die akademici en kommentators se gesanik oor Artikel 2(4) van die VN-Handves, wat na die beskerming van lidlande se territoriale integriteit verwys.

Volgens Eugene Kontorovich, professor in internasionale reg aan die George Mason Universiteit, is dit vreemd om Artikel 2(4) só te interpreteer dat dit buitelandse moondhede sou toelaat om militêre steun aan ʼn onwettige, onverkose diktator te verleer, maar nie om hom te verwyder nie. Dit is immers goed bekend dat lande soos Kuba, Rusland, Iran en China direkte militêre steun aan Maduro se regime gebied het.

Bewerings dat die Amerikaanse optrede China nou ʼn regverdiging sou gee om Taiwan te annekseer, is ongegrond. Venezuela, onder Maduro, was ʼn falende, bankrot diktatuur; Taiwan is ʼn kragtige demokrasie met ʼn baie sterk weermag. Die geopolitieke konteks verskil radikaal en so ook die twee lande se globale bydrae. Vergelykings met Libië, Irak en Afganistan is ewe misleidend: die VSA het nie oorlog teen Venezuela verklaar of probeer om die land te beset nie.

Daar was sonder twyfel goeie rede vir Trump om met dié operasie voort te gaan. Dit was die resultaat van maande se beplanning en geensins ʼn impulsiewe “uit-die-heup-uit-skiet”-operasie, soos sommige kritici nou beweer, nie.

Die operasie sluit trouens naatloos aan by die Trump-administrasie se nuwe nasionale veiligheidstrategie, wat presies ʼn maand tevore bekend gestel is. Dié strategie erken openlik die rol van groot supermoondhede in internasionale verhoudinge – in teenstelling met die utopiese idee dat globale politiek uitsluitlik deur verdrae en wette gereguleer kan word, terwyl moondhede soos China en Rusland dit daagliks oortree.

Naas Maduro was China, Rusland en Iran die grootste verloorders van verlede Saterdag se operasie. Hul invloed in Latyns-Amerika is nou duidelik op die agtervoet. Die Amerikaanse weermag se beslaglegging op twee skepe wat olie vanaf Venezuela na Rusland vervoer het, het verdere sout in dié lande se wonde gevryf, saam met hul ideologiese meelopers, soos Kuba en Suid-Afrika.

Verlede week se aanval het die geopolitieke tafel vir 2026 gedek. Hierdie naweek se vlootoefening in Suid-Afrikaanse waters is China se poging om ʼn simboliese middelvinger na Amerikaners te lig, terwyl Suid-Afrika waarskynlik die duurste prys daarvoor gaan betaal in die vorm van politieke en ekonomiese isolasie. ʼn Onsekere jaar lê voor, maar een ding is duidelik: die VSA is gereed om vanuit ʼn posisie van mag terug te stoot teen kragte wat nie net Amerikaanse belange bedreig nie, maar ook as destabiliserend in die Amerikas optree.

In Kuba en Iran is despotiese regimes by hul laaste asem. Rusland sal moet kies tussen vrede en volgehoue vyandskap. China se risiko’s in ʼn langdurige globale magstryd is waarskynlik groter as die potensiële wins. Intussen neem die Suid-Afrikaanse regering oënskynlik een verkeerde besluit ná die ander, en die gevolge daarvan sal ons waarskynlik reeds vanjaar begin voel.

Gewilde Nuus

Internasionale Perspektief nuut

ANC se linkse vriende val een ná die ander

Grasland Nasionale Park 1

Nuwe Grasveld Nasionale Park in Oos-Kaap afgekondig

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 9 Oktober 2026

Fotokrediet: Adventure Life

Reuseskilpaaie word op Seychelle-eiland ontdek

Brandende motor - IOL

Teen-immigrasiebetogings lei tot geweld

Ander Nuus Artikels

V (3)
Minder reise gaan lei tot minder vulstasies
V (2)
Geen politieke wil om plaasaanvalle stop te sit
Roelf Meyer by 'n kunsuitstalling in Washington.
Daarom was Roelf Meyer nie by Witkruisprojek
Internasionale Perspektief nuut
ANC se linkse vriende val een ná die ander
Grasland Nasionale Park 1
Nuwe Grasveld Nasionale Park in Oos-Kaap afgekondig

Luister nou