Amanda Visser
Die wettige aanlyn dobbelmark het die laaste twee jaar begin om die onwettige mark in te haal. Die voorgestelde 20% belasting op aanlyn dobbel bedreig egter dié positiewe ontwikkeling vir die Suid-Afrikaanse staatskas.
Sean Coleman, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Beroepsweddersvereniging (South African Bookmakers Association), sê die merkwaardigste en waarskynlik mees omstrede aspek is die feit dat die voorgestelde belasting nie net op die wettige mark nie, maar ook die onwettige mark gehef sal word.
“Dit is ondenkbaar dat belastinginkomste gegenereer word van optrede wat (reg of verkeerd) deur Tesourie as onwettig verklaar is,” sê Coleman.
Jeremy Marshall, uitvoerende hoof van Marshall’s World of Sport, sê die mark vir plaaslike beroepswedders het die laaste twee jaar uitgebrei met die toelating van meer aanlyn produkte.
Van dié produkte was voorheen slegs toeganklik op ongelisensieerde buitelandse platforms. Gelisensieerde operateurs in SA betaal ’n provinsiale belasting van tussen 6% en 9%, BTW van 15% en maatskappybelasting op hulle winste van 27%, benewens die vrywillige heffing van 0,1 % op die operateur se bruto dobbel inkomste vir die Nasionale Verantwoordelike Dobbel Program.
Die “grysmark”
Die moontlikheid van ’n belastingkoers van digby 40% vir plaaslike gelisensieerde beroepswedders maak dit uiters aanloklik om die grysmark te betree.
Marshall sê daar is verskeie buitelandse lisensiëringsentrums wat aan operateurs toegang gee tot betalingspoorte om deposito’s te neem. ’n Internasionale lisensie verhinder operateurs nie om in die Suid-Afrikaanse monetêre gebied besigheid te doen nie.
Dié operateurs is nie onderhewig aan die belastings wat plaaslik gelisensieerde ondernemings moet betaal nie.
“Dit is presies wat ons probeer voorkom. Maar as jy mense op hierdie vlak begin belas, word dit baie aantreklik om te kyk na buitelandse geleenthede. Dan dryf ons weer bedrywighede ondergronds.”
Yield Sec het verlede jaar in opdrag van die vereniging ’n studie oor die onwettige mark in SA gedoen. Die onwettige mark is enige weddenskap waarvan die tipe of die operateur nie toegelaat word onder die toepaslike wette van die jurisdiksie waar die verbruiker hom bevind.
Wanneer ’n aanlyn beroepswedder weddenskappe aanvaar van ’n verbruiker in ’n jurisdiksie waar die operateur nié gelisensieerd is nie, is dit onwettige dobbel.
Die Yield Sec-verslag wys dat daar ’n toename is in die getal buitelandse dobbellisensiëringsentrums met “gunstige” regulatoriese raamwerke vir aanlyn dobbeloperateurs.
Van dié sentrums is in Gibraltar, Malta en die Filippyne.
Totale weddenskappe
Nog ’n omstrede kwessie is die verwysing na die hoeveelheid weddenskappe in die Suid-Afrikaanse dobbelbedryf. Volgens Tesourie se besprekingsdokument was die totale weddenskappe vir 2024-’25 rondom R1,7 triljoen (miljoen biljoen).
Marshall glo dié skatting is bedrieglik. Hy is van mening dat weddenskappe eerder ’n vyfde van dié bedrag beloop. ’n Mens moet kyk na wat op risiko geplaas word.
Hy gee die voorbeeld van iemand wat R100 in sy rekening plaas. Hy wed die R100 en ná ’n reeks wen-en-verloorsessies wen die dobbelaar R10 000. Dit is die bedrag wat gerapporteer word en nié die aanvanklike R100 wat hy op risiko geplaas het nie.
Coleman sê dit is meer realisties om na die bruto inkomste van die dobbelbedryf te kyk – die aanvanklike weddenskap minus die wengeld wat aan die spelers uitbetaal is.
Volgens Tesourie se dokument was die brute dobbelinkomste vir 2024-’25 in SA nagenoeg R75 miljard (duisend miljoen). Dit is ongeveer 26% meer as die vorige jaar.
Dobbellandskap in SA 2024-‘25
| Dobbellandskap in SA 2024-‘25 | |
| Operasionele casino’s | 36 |
| Uitbetalingsmasjiene | 2 546 |
| Operasionele bingo-platforms | 73 |
| Operasionele totalisators | 325 |
| Operasionele beroepswedderplatforms | 553 |
Bron: Nasionale Tesourie
Morele kruistog
Ayanda Zulu van die Vryemarkstigting sê die belasting is ’n gevaarlike maar voorspelbare reaksie op die morele kruistog teen aanlyn dobbel wat deur onder andere politieke partye aangevoer word.
Zulu is bewus van die sosiale gevolge van dobbelverslawing, maar die kruistog beeld alle dobbeloperateurs verkeerdelik uit as boosdoeners of aasvoëls wat op hulpelose mense, wat nie kan redeneer of dink nie, toeslaan. Daarom moet hulle kortgevat word.
Mense het die vermoë om keuses te maak en markte is nie inherent boos nie, sê Zulu.
“Dobbeloperateurs, insluitend dié in die wettige grys gebied van interaktiewe dobbel, lewer ’n diens waaraan ‘toestemmende volwassenes’ vrywillig deelneem.”
Al is daar maklike toegang en aggressiewe bemarking in die mark, beteken dit nie mense kan nie ’n keuse uitoefen of persoonlike verantwoordelikheid neem nie, sê Zulu.