17 Desember 2024
Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, Fedsas sê openbare skole word ál groter, maar dat die aantal skole nie meer word nie.
Fedsas het tot dié gevolgtrekking gekom nadat amptelike syfers van die departement van basiese onderwys – van 2009 tot 2023 – ontleed is.
Volgens Fedsas se adjunkhoof, Riaan van der Bergh, is daar veral ‘n merkbare toename in skole met meer as 900 leerders.
Van der Bergh sê dié tendens is uiters kommerwekkend.
Dié inligting vorm deel van Fedsas se “Onderwys in syfers”-verslag wat hy aan die departement van basiese onderwys voorlê.
Van der Bergh sê daar moet dringend meer openbare skole gebou word, veral in Gauteng en die Wes-Kaap. “Skole in die Oos-Kaap loop leeg, en die middelklas befonds ’n groeiende persentasie van onderwysers en ander personeel by openbare skole.”
Daar was ’n styging van 7% in die aantal leerders sedert 2009, met meer as 12,7-miljoen leerders wat tans in 22 511 openbare skole onderrig word deur byna 455 000 onderwysers. “Terwyl die aantal leerders 7% meer is, is daar slegs ’n skamele 1% meer onderwysers.”
Lees die volledige verslag hier.