Die Gautengse onderwysdepartement het opdrag gegee aan alle skole in dié provinsie om die verkoop van voedsel op skoolterreine, en in die omgewing van skole met onmiddellike ingang te staak.
Dit kom te midde van ‘n vlaag van gevalle waar leerlinge siek word of sterf nadat hulle kos geëet het wat hulle by straatverkopers of spaza-winkels gekoop het.
Die departement se woordvoeder, Steve Mabona sê onderwysers en beheerliggame is aangesê om snoepiewinkels op skole, en verkopers deeglik dop te hou. Hy sê dit is belangrik dat slegs voedsel met goeie voedingswaarde op skoolterreine verkoop word.
Hy sê geen kos wat verval het, of voedsel wat herverpak is moet aan kinders verkoop word nie.
Mabona het skole herinner dat daar regulasies is wat die departement vroeër uitgereik het waaraan enige persoon moet voldoen indien hulle kos aan leerlinge verkoop.
- Alle voedselverkopers moet ‘n sertifikaat van aanvaarbaarheid ontvang deur die provinsiale gesondheidsdepartement te kontak.
- Die beheerliggaam is verantwoordelik om toe te sien dat alle verkopers wel oor ‘n sertifikaat besit.
Mabona sê dit is uiters belangrik dat die reëls geïmplementeer word, en dat enige gevalle waar die reëls nié nagekom word nie, aan die gesondheidsdepartement aangemeld word.