Luister nou

Verkiesing waarskynlik vandag geproklameer

Deur Seugnet van Zyl

Die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (CoGTA) sal waarskynlik vandag die plaaslikeregeringsverkiesing in die Staatskoerant proklameer.

Dit beteken dat die kiesersrol om middernag sal sluit en diegene wat teen dié afsnytyd nie aanlyn geregistreer het nie, nie aan die plaaslikeregeringsverkiesing kan deelneem nie. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sal dan ook ’n verkiesingstydlyn, waarvolgens die verkiesingsaktiwiteite en hul sperdatums en -tye bestuur moet word, in die Staatskoerant bekendmaak.

Stemgeregtigdes sal op 4 November by 23 699 stemlokale regoor die land kan stem. Daar is 2 834 stemlokale in Gauteng waar jy jou kruisie sal kan trek.

Dr. Pieter Mulder, politieke ontleder, sê politieke partye kan hulle nominasies ná vandag begin indien.

“Daarna sal die OVK na die nominasies kyk en bepaal of dit aan die vereistes voldoen, en dan sal die duisende stembriewe gedruk word.”

Mulder reken dat koalisies nodig gaan wees om regerings in van die metro’s te vorm.

“In Johannesburg en Pretoria sien ek dat nie een party 50% van die stemme op sy eie sal kry nie. Helen Zille, wat graag burgemeester van Johannesburg wil word, sal daarom dit nie op haar eie kan doen nie. Sy sal koalisies moet vorm. Dieselfde met Cilliers Brink en Willie Spies, burgemeesterskandidate in Tshwane.”

Prof. André Duvenhage sê daar kan tot 500 politieke partye aan die verkiesing deelneem.

“Van die mees prominente partye, in besonder die ANC, kan steun verloor. Dis vir my ’n uitgemaakte saak dat die ANC se steun gaan daal na selfs laer as 40%. Die prentjie vir die ANC is ongetwyfeld afwaarts.”

Duvenhage verwag dat die MK-party ondanks sy onstabiliteit en uitdagings baie goed sal vaar in KwaZulu-Natal en dele van Mpumalanga.

“Wat die EFF betref, dink ek Julius Malema het van sy glans en momentum verloor. Daar wys die trajek ook afwaarts. Vir die DA gaan dit nie so maklik wees om van amptelike opposisie na regerende party te beweeg nie. Die PA kan in geografiese gebiede, veral waar daar bruin stemme is, deurbrake maak. Ek verwag ook dat die IVP se steun kan toeneem en ’n klomp kleiner partye gaan setels wen.”

Persone 16 jaar en ouer kan tot vanaand om middernag nog hulle registrasiestatus nagaan, registreer en hulle stempunte wysig by www.elections.org.za.

Gewilde Nuus

Fotokrediet: Netwerk24

Deel van vuurpyl stort op die maan neer

Fotokrediet: Netwerk24

Nasionale Minimumloonkommissie begin met openbare proses

Anil Sooklal

Nuwe beleid sal oudpresidente se buitelandse reise reguleer

Fotokrediet: Moneyweb

Ondersoeke teen Patrick Dlamini gaan steeds voort

Fotokrediet: Kalahari Tours and Travel

Die Augrabieswaterval Nasionale Park vier 60 jaar

Ander Nuus Artikels

St. Stithians Collage
St. Stithians-tieners: Nadoodse ondersoek onthul skokgebeure
Fotokrediet: Wikipedia
Tafelberg se kabelkar is Maandag weer oop
Fotokrediet: Netwerk24
Deel van vuurpyl stort op die maan neer
Fotokrediet: Netwerk24
Nasionale Minimumloonkommissie begin met openbare proses
Anil Sooklal
Nuwe beleid sal oudpresidente se buitelandse reise reguleer

Luister nou