Jaco Kleynhans
Waarom het Péter Magyar verlede Sondag so maklik die verkiesing in Hongarye gewen? Waarom neem die ANC se steun in Suid-Afrika steeds af, en het die party in 2024 slegs 40% van die stemme behaal? Waarom het Olaf Scholz se Sosiaal-Demokrate verlede Februarie ʼn reuse-nederlaag in Duitsland gely? Waarom kan die Republikeine in die Verenigde State van Amerika (VSA) vanjaar in November ʼn nederlaag in die Amerikaanse middeltermynverkiesing verwag? Dit is die ekonomie, domkop!
Die vertaling van “It’s the economy, stupid” is nogal uitdagend. Sommige KI-toepassings vertaal “stupid” in hierdie konteks as domkop en ander dit as dommie. Maak nie saak hoe jy dit lees nie – die slagspreuk is kras, kru, maar baie waar, en waarskynlik die enkele rede waarom Bill Clinton in 1992 tot die VSA se 42ste president verkies is.
Tydens die voorverkiesings van die Demokrate in 1992 was dit die briljante politieke strateeg en voorsitter van Clinton se veldtog, James Carville, wat in die veldtogkantoor in Little Rock, hoofstad van die deelstaat Arkansas, ʼn plakkaat met drie slagspreuke opgesit het om seker te maak dat die span gefokus bly. Die ander twee slagspreuke was: “Change vs. more of the same” en “Don’t forget health care.”
Uiteindelik sou die kras “It’s the economy, stupid” Clinton help om die Demokrate se presidentskandidaat te word en uiteindelik die verkiesing teen George H.W. Bush in November 1992 te wen. Domkop of dommie is sekerlik skerper woorde as bloot net “stupid”, maar wat Carville wou sê, was eenvoudig: hou op met die geraas en onsinnige praatjies oor allerhande dinge; daar is een rede waarom kiesers vir Clinton moes stem, en dit was die ekonomie.
Natuurlik het Barack Obama in 2008 en Donald Trump in 2024 om presies dieselfde rede hul verkiesings gewen. Ja, grensbeheer, immigrasie, terreur, misdaad, onderwys en gesondheidsorg is alles belangrik, maar uiteindelik kan elke Jan Rap en sy maat verstaan dat die belangrikste dryfveer vir stemgedrag die ekonomie is.
Verlede Sondag het die Hongaarse eerste minister Viktor Orbán en sy Fidesz-party ʼn reuse-nederlaag in ʼn algemene verkiesing gely. Die party se tweederdemeerderheid van vier jaar gelede is omgeswaai na ʼn tweederdemeerderheid vir die nuwe Tisza-party van Péter Magyar. Die afgelope paar dae hoor ons hoe hierdie verkiesingsuitslag voorgehou word as ʼn oorwinning vir demokrasie oor outokrasie – hoe kiesers glo teen korrupsie, ten gunste van Europese Unie-integrasie en selfs ten gunste van groter steun aan Oekraïne gestem het. Daar word selfs beweer dat Hongarye kwansuis ʼn groot swaai na liberale beleidsintegrasie met Wes-Europa gemaak het. Dit is bloot onsin.
Ná Orbán se oorwinning in 2010 het hy en Fidesz belangrike hervormings geïmplementeer wat tot ʼn tydperk van sterk ekonomiese groei en stygende inkomste per capita gelei het. Die afgelope ses jaar het die teenoorgestelde egter gebeur. Inflasie, ekonomiese stagnasie, stygende werkloosheid en die gevoel onder baie Hongare dat ekonomiese geleenthede tot ʼn elite beperk is, dat hul besteebare inkomste daal en dat hulle toenemend swakker daaraan toe is as mense in ander Sentraal-Europese lande (soos Pole, Tsjeggië en selfs Slowakye), het die deurslag vir Magyar se oorwinning gegee.
Magyar se standpunte oor immigrasie en grensbeheer, Christelike waardes en Europese integrasie verskil nie wesenlik van Orbán s’n nie. Hongarye onder Orbán was nie ʼn outokrasie nie, en sy steun aan Rusland word oordryf. Hongare het hulself afgevra: As Magyar nie wesenlik van Orbán verskil nie, waarom nie vir hom stem in die hoop dat hy die Hongaarse ekonomie kan regruk nie? Sy veldtog was immers oorwegend – minstens 90% – op ekonomiese kwessies gefokus.
Baie kan nog in die VSA tussen nou en Dinsdag 3 November gebeur. Indien ek egter ʼn raaiskoot moet waag, sal ek voorspel dat die Republikeine beide huise van die Amerikaanse Kongres gaan verloor en honderde setels in die deelstaatwetgewers aan die Demokrate gaan afstaan. En dit sal nie wees oor die oorlog in Iran, Trump se steun aan Orbán, sy botsings met Europese leiers en NAVO, sy administrasie se hardhandige hantering van onwettige immigrante of sy onnodige, vulgêre en onlangs selfs Godslasterlike inskrywings op Truth Social nie. Slegs sowat 50% van Amerikaanse kiesers neem aan middeltermynverkiesings deel, en hul stemgedrag word grootliks bepaal deur hoe hulle die ekonomie in die drie maande voor die verkiesing ervaar. Die protesstem November gaan groot wees.
Bryan Lanza, ʼn senior adviseur vir Trump se 2024-veldtog, het enkele dae gelede gesê: “Die pad na oorwinning loop deur ʼn konsekwente ekonomiese boodskap. Ongelukkig ignoreer president Trump hierdie padkaart.” Waar byna tweederdes van Amerikaners in 2024 meer vertroue in Trump as in Kamala Harris gehad het om die Amerikaanse ekonomie te bestuur, voel slegs 31% vroeër hierdie week nog positief oor Trump se hantering van die Amerikaanse ekonomie.
Daar is geen rede om te glo dat die ekonomiese vraagstuk en die regte antwoorde daarop nie ook in Suid-Afrika tot politieke oorwinnings kan lei nie. Ek was verlede naweek by die Demokratiese Alliansie se driejaarlikse nasionale kongres in Midrand, en het met Allan Winde, premier van die Wes-Kaap, gesels. Volgens hom is die ekonomiese sukses van die Wes-Kaap sy party se sterkste verkiesingswapen.
Natuurlik gaan politiek en veldtogte oor meer as net ekonomiese kwessies. Natuurlik is immigrasie, dienslewering, welsyn, onderwys, gesondheidsorg en baie ander sake van groot belang. Maar uiteindelik, in veral volwasse demokrasieë, bly die kernvraag aan kiesers: Is jy beter daaraan toe as tydens die vorige verkiesing?
Dit is die vraag wat Orbán sy pos gekos het, wat die Republikeine in November duur te staan kan kom, en wat moontlik oor die volgende twee verkiesingsiklusse die einde van die ANC kan beteken.
Kleynhans is die hoof van openbare skakeling by Solidariteit.