Die minister van landbou, John Steenhuisen, het die vordering van die landswye inentingsveldtog teen bek-en-klouseer geloof.
Steenhuisen het ’n besoek in Hazyview, Mpumalanga, afgelê om die inentingsproses te monitor.
Hy is vergesel deur Eswatini se minister van landbou, Mandla Tshawuka, en Abel Child Chilundo van Mosambiek se departement van landbou.
Steenhuisen sê dat hulle daaraan werk om samewerking tussen verskillende lande te versterk om die virus in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) te bekamp.
“Ons dryfveer is nou om ’n streeksbenadering te volg om bek-en-klouseer te takel. Tydens ons besoek aan Suid-Amerika het ons geleer dat sukses slegs moontlik is as die siekte op streeksvlak aangepak word,” sê Steenhuisen.
Planne vir ’n plaaslike antigeenbank en ’n netwerk van gespesialiseerde laboratoriums sal binnekort tydens ’n ministersberaad by die Victoriavalle bespreek word.
Dié inisiatief is daarop gemik om vinniger op plaaslike virusstamme te reageer en laboratoriumkapasiteit regoor Suider-Afrika te versterk.
Steenhuisen meen hierdie strategie, wat deur Suid-Amerikaanse modelle geïnspireer is, deurslaggewend vir die sektor se voortbestaan is.