Werner Human, adjunkbestuurshoof van AfriForum, en Jaco Kleynhans, hoof van Openbare Skakeling by Solidariteit, is die afgelope twee weke in die VSA waar hulle die Solidariteit Beweging se uitgebreide voorstelle voorgelê het om ’n oplossing vir die geskil tussen die VSA en Suid-Afrika te vind oor brandpunte soos die regte van Afrikaners, swart ekonomiese bemagtiging, grondonteiening en plaasmoorde. Die Beweging was die afgelope sewentien maande, sedert president Donald Trump se ondertekening van ’n uitvoerende bevel oor Suid-Afrika, intensief betrokke by onderhandelinge tussen die VSA en Suid-Afrika.
Die afgelope twee weke het die afvaardiging van die Solidariteit Beweging op hoëvlak geskakel met die Withuis, Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake, lede van die Senaat en verskeie ander rolspelers. Kleynhans het aan Nuusweek gesê die Solidariteit Beweging wil sien dat ’n oplossing vir die geskil gevind word, maar nie sonder wesenlike, noodsaaklike hervormings in beleid nie.
Daar is ook voorstelle gemaak oor die Amerikaanse regering en Trump se vyf eise aan Suid-Afrika. Dit sluit in dat “Kill The Boer” deur die Suid-Afrikaanse president, Cyril Ramaphosa, verwerp moet word, verskeie van AfriForum se voorstelle oor landelike veiligheid aanvaar moet word, die Onteieningswet hersien moet word en verskeie dele van wetgewing oor swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie met tyd uitfaseer word.
Kleynhans sê die voorstelle is positief in Washington ontvang.
“Dit sal nou van die Suid-Afrikaanse regering afhang of hulle tot ons voorstelle gaan instem en ’n ooreenkoms so moontlik sal maak.”
Volgens Kleynhans is daar ook verder steun gewerf vir ander prioriteite van die Solidariteit Beweging, wat insluit projekte in veiligheid, onderwys, die beskerming van minderheidsregte en die uitbou van gemeenskapstrukture.
“Ons het reeds ’n omvattende netwerk van steun in Washington, maar ook meer as tien Amerikaanse deelstate. Dit is tydens hierdie besoek uitgebou. Ons wag nie vir ’n ooreenkoms tussen die twee lande se regerings nie. Ons werk nou reeds aan erkenning vir Afrikaners by die Amerikaanse regering en vir konkrete steun vir dit waarmee ons besig is.”