Nuuskommentaar: 29 Junie 2022
Deur: Jaco Kleynhans
Die afgelope naweek het die staatshoofde van die G7-lande by ’n skilderagtige hotel in die Duitse Alpe vergader om oor verskeie uitdagings en krisisse wat die wêreld tans in die gesig staar, te praat. Die oorlog in Oekraïne, globale ekonomiese uitdagings, China se selfgeldende, en soms aggressiewe, benadering tot globale kwessies en die nadraai van die Covid-19-pandemie is van die sake wat bespreek is.
Die sewe groot demokrasieë wat die G7 uitmaak, naamlik die VSA, die Verenigde Koninkryk, Japan, Kanada, Duitsland, Frankryk en Italië, verkeer tans onder druk om visionêre leierskap in onseker tye te bied. Ongelukkig het nie een van dié sewe lande tans ’n leier wat sterk na vore tree met ’n populêre mandaat om die nodige stappe te neem wat ’n veiliger en voorspoediger toekoms kan verseker nie.
Die Westerse demokratiese politieke stelsel is nie sonder gebreke nie, maar het oor die afgelope dekades tot noemenswaardige vryhede, regte, ekonomiese groei en stabiliteit gelei. ’n Vergelyking tussen enige van die G7-lande en lande in die Midde-Ooste, Afrika en Asië wat nie dieselfde Westerse demokratiese beginsels gevolg het nie, bewys die groot voordele van Westerse demokrasie.
Terwyl die meeste Westerse leiers ongewild in hulle eie lande is, maak hulle hulleself ook nog skuldig aan skynheiligheid, klein geveggies en oneerlike optrede. Die oorlog in Oekraïne is een goeie voorbeeld. Dit is in die beste belang van Oekraïne, Rusland en die hele wêreld dat die oorlog tot ’n einde moet kom. Rusland as aggressor verdien om as sondebok uitgewys te word. Westerse leiers is egter totaal oneerlik oor hoe oneffektief huidige sanksies is en hoe die Weste se huidige strategie tot ’n lang, uitgerekte stryd gaan lei waarin groot dele van Oekraïne heeltemal verwoes kan word. Intussen betaal ons almal die prys daarvoor.
Die afgelope naweek het die Franse president, Emmanuel Macron, hom in ’n sterk bewoorde boodskap op sosiale media uitgespreek teen die federale hooggeregshof in die VSA se uitspraak oor aborsieregte. Die hof het natuurlik beslis dat aborsieregte deur die vyftig deelstate self bepaal moet word. In Macron se Frankryk geld streng aborsiewette, wat heeltemal korrek dié prosedure tot die minimum probeer beperk. Tog probeer Macron politieke punte wen deur sy oneerlike, opportunistiese uitspraak oor ’n ander land se sake.
In Duitsland was dit ironies genoeg die Groenparty se medeleier wat verlede week aangekondig het dat Duitsland drie steenkoolkragstasies gaan heropen – dit terwyl kernkrag, wat veel skoner is, uitgefaseer word. Noem dit nou maar omgewingskynheiligheid.
Boris Johnson se Verenigde Koninkryk stuur op ’n resessie af terwyl Johnson tussen Rwanda, Oekraïne en Duitsland reis en sy eie beleidsmislukkings ontken. Joe Biden preek oor eenheid in die VSA, terwyl hy oor energie-onafhanklikheid, wapenbeheer, aborsieregte, grensbeheer en talle ander sake ’n dieper wig tussen linkse en regse Amerikaners indryf.
Die Europese Unie, Navo en eintlik die hele G7-leierskap wat die naweek lekker aan Duitse Apfelstrudel in die Alpe gesmul het, is skuldig aan skynheiligheid en klein geveggies. Indien Westerse leiers nie eerbare leierskap gaan toon nie, sal die outoritêre, ondemokratiese alternatief wat deur lande soos China en Rusland voorgestaan word, net veld wen. Westerse demokrasie is nodig om die wêreld veiliger en meer voorspoedig te maak, en daarvoor is beter en meer eerbare leiers dringend nodig.