Nuuskommentaar: 19 Desember 2023
Deur: Jaco Kleynhans
President Cyril Ramaphosa het verlede week in Johannesburg tydens die twintigste bestaansjaarviering van die African Peer Review Mechanism gesê dat demokrasie in Afrika sal aanhou groei en floreer ten spyte van die uitdagings wat die vasteland in die gesig staar. Volgens Ramaphosa is daar ʼn veerkragtigheid in Afrika-demokrasieë en is daar steeds groot openbare steun vir demokrasie in Afrika.
Ramaphosa se opmerkings is uiteraard baie ver verwyderd van die werklikheid. Volgens die organisasie Freedom House, wat jaarliks die stand van demokrasie wêreldwyd monitor, is daar ʼn algemene tendens weg van demokrasie in Afrika. Tussen Augustus 2020 en November 2023 is sewe Afrikaleiers deur hul eie weermagte in staatsgrepe omvergewerp. Vier van hierdie staatsgrepe het vanjaar alleen plaasgevind.
Ethiopië, wat eens op ʼn tyd een van die beste voorbeelde van federale demokrasie in Afrika was, dreig om in permanente etniese geweld terug te val ná die bloedige oorlog in Tigray waarin honderde duisende mense dood is, en nou ook ʼn dreigende oorlog in die Amhara-streek. ʼn Militêre staatsgreep in Soedan is vroeër vanjaar opgevolg deur ʼn volskaalse burgeroorlog met ʼn terugkeer na volksmoord in die westelike Darfoer-streek.
Burgeroorloë, of ten minste ernstige vlakke van konflik, woed tans in talle ander Afrikalande soos Somalië, die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), Mali, Burkina Faso en Kameroen. Konflik het die afgelope jaar ook skerp in Nigerië en Niger toegeneem.
Daar heers tans toestande van interne konflik in minstens sestien Afrikalande wat strek vanaf die westelike Sahel deur die Horing van Afrika, wat die Tsjad-bekken en die Groot Mere-streke insluit. Wat egter selfs meer kommerwekkend is, is die toename in Islamitiese terreur in Afrika en die houvas wat terreurgroepe in verskeie Afrikalande begin kry. Groepe wat bande met Al-Kaïda en die Islamitiese Staat het, se omvang en vermoë het in 2023 in lande soos Mali, Niger, Burkina Faso, Tsjad, Libië, Nigerië en Kameroen toegeneem.
Kiesers in verskeie Afrikalande het in 2023 na die stembus gegaan. Kiesers in die DRK, ʼn land met ʼn bevolking van 100 miljoen mense, gaan vandeesweek na die stembus in ʼn verkiesing wat reeds deur ongerymdhede met die aanwys van kandidate, die kiesersrol en die druk van stembriewe gekenmerk word. Verkiesings in ander Afrikalande soos Madagaskar, Zimbabwe, Egipte, Guinee-Bissau, Gaboen en Sierra Leone is almal deur ongerymdhede wat deur buitelandse waarnemers bevestig is, gekenmerk.
Terwyl ontwikkelde ryk lande soos Europese lande, Japan, China en Suid-Korea deur ʼn krimpende bevolking geraak word, is die bevolkings van die meeste Afrikalande besig om skerp toe te neem. Teen 2050 sal meer as ʼn kwart van die wêreld se bevolking in Afrika woon.
Tog is Afrika, ten spyte van sy enorme natuurlike hulpbronne, reuselandboupotensiaal en beskikbaarheid van genoeg jong mense vir die arbeidsmark, die mees onderontwikkelde kontinent op aarde.
Die Nigeriese akademikus Claude Ake het reeds ʼn paar jaar gelede gesê dat ekonomiese ontwikkeling nog nooit op die agenda van Afrikaleiers en -regerings was nie. Volgens hom word die hele Afrika gekenmerk deur die blote uithol van elke instelling en hulpbronne deur korrupsie en ʼn stryd om mag.
Volgens die Afrobarometer het die persentasie van mense in Afrika wat demokrasie bo ander regeringsvorms verkies, van 75% in 2012 tot 66% gedaal. Demokrasie in Afrika het in 2023 nóg verder verswak en die vooruitsigte vir 2024 lyk nie beter nie. Daarom moet ernstige krisisse vanuit Afrika, wat ook die res van die wêreld kan en gaan raak, oor die volgende paar jaar verwag word.