13 Desember 2024
Die Solidariteit Beweging sê hy het sy finale insette oor die omstrede Bela-wet voor die sperdatum van 13 Desember aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur.
Die Solidariteit Beweging Trust se operasionele hoof, Werner Human sê die beweging het met Ramaphosa ooreengekom dat die omstrede Bela-artikels nié vandag, 13 Desember, gepromulgeer gaan word nie, maar dat dit bloot die einde van die konsultasietydperk is.
Human sê indien die president voortgaan om die omstrede artikels 4- en 5 te promulgeer voordat toepaslike norme, standaarde en regulasies ontwikkel is, sal Solidariteit en AfriForum voortgaan met hofstappe omdat dit “onregmatig sal wees.”
Die konsultasiegesprekke waarvan die Solidariteit Beweging deel was, sluit gesprekke met die ANC, mediasie by Nedlac en ʼn proses by Nedlac in. Human sê Solidariteit sal wag vir enige aankondiging van die president voordat verdere stappe gedoen word.