Nuuskommentaar: 26 Augustus 2022
Deur: Werner Human
Vir die eerste keer het die publiek ʼn blik op die werkinge van die ANC se kaderontplooiingsbeleid, ná onthullings vanuit die Zondo-kommissie se verslag asook ʼn hofsaak van die Demokratiese Alliansie (DA) wat dié beleid uitdaag.
President Ramaphosa het in ʼn antwoordende eedsverklaring die beleid ongekwalifiseerd verdedig en ook die plasing van kaders in magtige en invloedryke posisies as noodsaaklik vir ʼn land se ontwikkeling beskou. Een ding is seker, ten spyte van die ANC se jarelange organisasietema van ‘hernuwing’ en ‘hergeboorte’, klou hulle verbete vas aan hierdie Sowjetunie-era se leerstukke.
Die persoon wat die idee van kaderontplooiing verfyn het, is die diktator, Josef Stalin, gewees. Hy het immers met ʼn groot bohaai in 1935 aangekondig dat: “Kaders besluit alles!”
In Suid-Afrika kan dit werklik die geval wees. Kaderontplooiing se ingrypende implikasies het op elke vlak van ons samelewing ingesypel. Dit was egter die bedoeling wanneer ʼn mens oorweeg wat in ʼn 1996 ANC-beleidsdokument getiteld, “Staatseiendom en sosiale transformasie” staan: Die ANC moet oor die gebiede van; die weermag, polisie, burokrasie, intelligensie dienste, die regsbank, die sentrale reserwebank, staatsondernemings ens. regeer.
In 1997 by die Mafikeng-konferensie is kaderontplooiing formeel as beleid aangeneem om die onderskeie magsentrums te beheer.
Tog ontken Ramaphosa enigsins die erns van die onderwerp. Hy hou ʼn beeld van kaderontplooiing wat nie kan faal nie voor en gee slegs toe dat die beleid misbruik kán word. Sy gedetailleerde uiteensetting beskryf presies hoe stille dwang vanuit Luthuli-huis uitgeoefen kan word. Die proses aldus Ramaphosa behels dat die kaderontplooiingskomitee ʼn lys van kandidate saamstel, sodat hierdie lys aan die regering gestuur kan word in die vorm van “aanbevelings”, en vandaar kan kandidate oorweeg word.
Wat Ramaphosa dus eintlik onder eed getuig het en in sy eedsverklaring stel, is dat die ANC die lys van name lewer waaruit ʼn kandidaat aangestel móét word. Hy gaan voort deur te stel dat die kabinet uiteindelik die aanstelling ingevolge die betrokke landswette maak – so asof die komitee geen betekenisvolle rol speel nie.
Uit sy eie woorde kan dit nie anders interpreteer word as dat die ANC ‘aanstel’ en nie ‘aanbeveel’ nie.
Op dieselfde liggeraakte wyse hanteer hy die proses van die aanstel van regters en meen hy ook dat dit die ANC se goeie reg is om hul verkose kandidate te bevorder, en om beleid en standpunte in te neem wat met die ANC-posisie ooreenstem.
Soos in Maart 2017, waar die ANC al telkemale hofsake verloor het, pleit die ANC vir ʼn regsbank wat meer getransformeerd is en dat ʼn kriteria, wat kandidate se toegewydheid tot transformasie kan toets, aangeneem behoort te word.
Laastens, strek die tentakels van kaderontplooiing selfs so ver as die privaat sektor; tot onlangs was dit nie bekend dat die ANC selfs kaders na maatskappye ontplooi nie.
In reële terme dra die Zondo-kommissie se verslag en die inligting vanuit die hofsaak wat bekom is soortgelyke waarde. Dít is dat die ondenkbare oortredinge van die ANC-regime op ʼn wyse geboekstaaf word. En alhoewel die volgehoue pogings om ongeregtighede aan te spreek ten sterkste voortgesit moet word, bevestig beide die hofsaak oor kaderontplooiing en die getuienisse voor die Zondo-kommissie, dat kaderontplooiing onlosmaaklik deel van die ANC is. Insgelyks is dit ook een van die grootste oorsake van die vervallende Suid-Afrikaanse staat.