Vanaand met Pienaar Lochner

Weeksdae
18:00 - 22:00

Luister nou

Volgende

Tekort aan teengif in SA kan talle se doodsvonnis wees

As jy nou deur ’n giftige slang gepik word, is die kanse baie groot dat jy gaan sterf.

Só meen kenners wat baie bekommerd is oor die land se reusetekort aan teengif vir slange, skerpioene en spinnekoppe.

“Daar is eenvoudig nie teengif in Suid-Afrika nie. Die staat vervaardig tans geen teengif nie. Produksie het heeltemal tot stilstand gekom,” sê Johan Marais, hoof van die Afrika-slangbytinstituut.

Dít is die geval nadat die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) aan die einde van verlede jaar in ’n verklaring aangekondig het daar moet opknappings by die Suid-Afrikaanse entstofprodusente se fasiliteite in Edenvale gedoen word.

Dit het beteken dat halt geroep is met die vervaardiging van teengif, en intussen het die land se voorraad van teengif opgedroog.

Tydens ’n sitting van die portefeuljekomitee vir Gesondheid kon die NHLS nie bevredigende antwoorde bied vir die tekort aan teengif of aandui wanneer die land weer voorraad sal hê nie.

Die DA het nou besluit om parlementêre vrae in te dien sodat die staatsbeheerde NHLS formeel kan verduidelik hoe dié krisis opgelos gaan word.

“Die publiek verdien om te weet wat tans gedoen word om die probleem hok te slaan en hoe lank die opgraderings gaan neem. Ons het ongelukkig nie voldoende antwoorde gekry nie,” sê Michele Clarke, die DA se woordvoerder vir Gesondheid.

Maar al word dié probleme oornag opgelos, meen Johan dit gaan maande neem voordat daar weer teengif in Suid-Afrika beskikbaar is.

“Dit neem sowat nege maande om teengif te vervaardig. Perde word oor etlike maande heen gehiperimmuniseer met die gif totdat die dier immuun raak teen die gif. Daarna word sowat nege liter se bloed getrek en die plasma van die bloed word verwyder, wat die teengif uitmaak.”

Die Suid-Afrikaanse entstofprodusente is die enigste vervaardiger van teengif in Suid-Afrika.

Volgens Arno Naudé, hoof van Snake Bite Assist, is daar ’n ander alternatief, waarvan Suid-Afrika reeds gebruik maak.

“Indië vervaardig tans teengif vir talle Afrika-lande. Die probleem is egter dat die Indiese produsent meer fokus op teengif vir slange wat in die noorde van die kontinent voorkom.”

Hy sê die alternatiewe teengif is ook heelwat duurder as ons plaaslike teengif, en omdat daar onsekerheid is oor die effektiwiteit daarvan vir ons plaaslike slangbyte, soos dié van ’n Kaapse kobra of ’n rinkhals, weet ons ook nie hoe doeltreffend dit is nie.

“Dit is al toegedien op pasiënte wat deur van ons inheemse slange gebyt is, maar ons weet ook nie wat die aard van hierdie slangbyte is en hoeveel ampules werklik nodig is nie.”

Arno sê dokters is ook huiwerig om die alternatief toe te dien.

“Omdat die ampules nie aandui dat dit gebruik kan word as ’n rinkhals jou pik nie, is hulle huiwerig om die teengif toe te dien. Of hulle aanvaar dit gaan nie werk nie, en die pasiënt sterf.”

Volgens hom is die teengif vir die boomslang ’n groot bekommernis.

“Die teengif word slegs in Suid-Afrika vervaardig. Ons weet nie hoeveel van die voorraad is oor nie. Daar kan slegs twee ampules oor wees, en nêrens in die wêreld sal jy voorraad kry nie.”

Dit is nie net Suid-Afrika wat sonder teengif sit nie.

“Vir die laaste 40 tot 50 jaar vervaardig Suid-Afrika teengif vir omtrent die hele Suider-Afrika. Lande soos Botswana, Eswatini en Mosambiek sit ook sonder teengif.”

Nog ’n groter kommer is die teengif vir skerpioene en spinnekoppe.

“Hulle teengif kan slegs plaaslik vervaardig word, en tans is daar geen voorraad vir spinnekoppe of skerpioene nie.”

Hy sê dit is veral kommerwekkend vir hospitale in die Noord-Kaap waar skerpioensteke meer algemeen voorkom.

“As ’n kind nou deur ’n byvoorbeeld dikstertskerpioen gesteek word, gáán die kind sterf. Al hoe meer mense gaan sterf as ons die probleem nie vinnig oplos nie.”

Die berig het oorspronklik in Nuusweek verskyn.    

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

Screenshot 2025-07-05 112441

Solidariteit begin met stappe teen Bidvest oor “rassistiese” beurs

Chairs,,Table,And,Toys.,Interior,Of,Kindergarten.

22% van Graad R-onderwysers is nie gekwalifiseer nie

LISENSIE-2

OUTA vra dat rybewyskaarte 10 jaar geldig moet wees

covid-1

Studie: 50% van Covid-19-pasiënte beleef langtermyngeheue- en geestesgesondheidsprobleme

0000416479_resized_newidcard

Binnelandse sake verleng kantoorure in die skoolvakansie vir ID-aansoeke

Ander Nuus Artikels

GvZuflXXAAAZv4E
Ek sal nié dissiplinêre stappe doen teen Mkhwanazi nie – Nasionale Polisiekommissaris
ENOCH1-large
Minister gaan hemelhoë salarisse by staatsbeheerde maatskappye bekyk
GvVmHWcWoAAxnfb
Italiaanse man dood toe vliegtuig se enjin hom insuig
Screenshot 2025-07-05 112441
Solidariteit begin met stappe teen Bidvest oor “rassistiese” beurs
Chairs,,Table,And,Toys.,Interior,Of,Kindergarten.
22% van Graad R-onderwysers is nie gekwalifiseer nie

Vanaand met Pienaar Lochner

Weeksdae
18:00 - 22:00

Luister nou

Volgende