Deur: Nuusweek-redaksie
Carel Boshoff, die hoof van die Vryheidstigting en voorsitter van die FAK het vandeesweek sy doktorsgraad in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat in ontvangs geneem.
Sy studie het gehandel oor “Die oorvloedige lewe as antwoord op die moderne skaarsheidservaring” en is onder leiding van professor Johann Rossouw van Bloemfontein voltooi.
Op ’n vraag oor die onderwerp van studie sê Boshoff:
“Die wêreld het nog altyd rykdom én armoede geken. Voorspoed én rampe, oorskotte én tekorte, oorvloed en skaarste was nog altyd daar, maar is in die geskiedenis op verskillende maniere beskou. Die laaste vyf honderd jaar of wat (die moderne era) is egter gekenmerk aan ’n skerp teenstrydigheid: die beskikbaarheid van alles wat mense nog altyd graag wou hê het op ongekende skaal toegeneem, maar tegelyk het die ervaring van skaarste ook toegeneem. Hoe moet mens dit verstaan? En wat kan mens doen om hierdie skaarsheidsdenke nie ten prooi te val nie? Dit is wat ek wou vasstel.”
Hy voer aan dat skaarste en oorvloed minder met die beskikbaarheid van dinge te doen het en meer met die gees waarin die werklikheid tegemoet gegaan word.
“Waar die selfskeppende mens in die middelpunt van sy eie wêreld staan, heers ’n gees van onvervulbare begeertes. Die verwagting is dat die rede, wetenskap, tegnologie en produksie op ‘n trajek van onbeperkte groei en vooruitgang is, met die gevolg dat enige tekort of gebrek eintlik ’n onreg is wat al te bowe gekom moes gewees het en wat spoedig behoort te verdwyn. Dit is wat dikwels onder die vaandel van “sosiale geregtigheid” verstaan word.”
Boshoff sê daarteenoor staan ’n lang tradisie, in besonder in die Christelike Weste, van ‘n dankbare ontvangs van die werklikheid uit die hand van ’n genadige Skepper-God, wat in oorvloed skenk.
“Dit sluit nie beproewing of ellende uit nie, maar die oorvloed wat die skeppingsgeskenk kenmerk word eerder beklemtoon as bederf deur die teenstelling met gebrek en tekort waarin dit staan.”
Boshoff is van mening dat die tekens van oorvloed oral onder ons teenwoordig is, selfs al is ons nie meer geneig om dit raak te sien nie. Twee voorbeelde is opoffering en feestelikheid. Mens gee net prys waarsonder jy regtig kan klaarkom. Die ouers wat hulleself tekort doen om vir ’n kind se studies te betaal, lewe in oorvloed want hulle het genoeg om te deel – nie meer as ander of te veel nie, maar genoeg om te deel.
“Mense wat feesvier, deftig of beskeie, gebruik hulpbronne wat geen regstreekse terugkeer op belegging inhou nie, om die waarheid te sê, uit ekonomiese oogpunt gooi hulle waarde weg. Uit menslike oogpunt deel hulle, al is dit ‘n bord sop wat by kerslig geniet word. Hule het méér as genoeg, want hulle kan deel. Só beskou, vier ons ook fees by die dood van ’n geliefde, wat duidelik wys dat selfs smart en oorvloed hand-aan-hand kan gaan wanneer dit uit die hand van ’n genadige God ontvang word.”
Boshoff het sy waardering uitgespreek jeens prof. Rossouw vir sy leiding en kundigheid en aan die Universiteit van die Vrystaat wat die verhandeling in Afrikaans ontvang en beoordeel het. Hy maak die manuskrip tans gereed vir populêre publikasie by die FAK onder die titel: Vryheid en Oorvloed – Om die skaarsheidsdenke van ons tyd nie ten prooi te val nie.
Carel Boshoff by professor Johann Rossouw. (Foto verskaf)