Deur: Ilze Nieuwoudt
Die winde van verandering het dalk oor die afgelope 30 jaar oor die land gewaai en Transvaal is nou nog net ’n naam wat in die geskiedenisboeke opduik, maar wanneer dit kom by die ou Transvaalse hoofstad, Pretoria, staan één ding nog vas. Betaal bly steeds – of nou selfs erger as voorheen – die wet van Transvaal.
Die Tshwane Metro het immers groot planne om nóg geld uit sy oorbelaste inwoners te melk. In Maart is die metro se nuutste eiendomswaardasierol bekendgestel en dié aangepaste waardasies het inwoners reeds warm onder die kraag gelaat. In sommige gevalle is buitensporige waardasies aangemeld. Talle ontnugterde inwoners het AfriForum reeds hieroor genader. In een geval is die waarde van ’n eiendom, wat tot op hede op R1,2 miljoen waardeer is, nou – op R2,3 miljoen – sowat 100% hoër waardeer. In nog ’n geval is ’n huis in Wonderboom-Suid wat voorheen op R930 000 gewaardeer is nou teen ’n ysingswekkende R11 miljoen gewaardeer.
Die DA in dié metro het intussen aangedui dat hulle gaan voorstel dat die tarief van eiendomsbelasting in die metro se nuwe begroting onveranderd gelaat word. AfriForum beoog om op sy beurt te bepaal of daar moontlik geteikende streeksgebonde, oordrewe verhogings in die metro ingestel is.
En asof die verhoging in eiendomswaardasies – wat ’n direkte invloed op eiendomsbelasting het – nie genoeg is nie, maak die metro ook nou planne om ’n sogenaamde “omgewingsheffing” in te stel. Hierdie heffing sal die metro
na verwagting ’n bykomende R540 miljoen in die volgende finansiële jaar in die sak bring.
Dié beoogde maandelikse heffing van R194,37 sal ingestel word op alle leë persele groter as 150 000 m2 en residensiële eiendom en sakepersele met ’n waarde van meer as R250 000 sonder bestaande munisipale vullisverwyderingsdienste. Luidens die metro is daar nagenoeg 194 400 residensiële eiendomme en net meer as 62 000 sakepersele in die metro wat nie tans van die metro se vullisverwyderingsdiens gebruik maak nie. Boonop blyk dit asof inwoners wat reeds keelvol was vir die metro se swak dienslewering en nou slegs van privaatvullisverwyderingsdienste gebruik maak in die proses geteiken word om op te dok vir dienste wat óf privaat gelewer word óf reeds as deel van bestaande eiendomsbelasting gehef word.
Dit is duidelik dat die metro hard op soek is na maniere om sy begroting te laat klop. En terwyl elke moontlike opsie oorweeg word om alternatiewe inkomstekanale te ondersoek, het die metro se burgemeester Nasiphi Moya in Maart aangekondig dat agterstallige skuld aan die metro tans op sowat R29 miljard staan! Die hardnekkige wanbetalers – waaronder sommige groot sake-ondernemings – kom skynbaar lag-lag hiermee weg, terwyl getroue betalers wat maand na maand sente omdraai, aan die kortste ent trek. Want betaal was én bly immers steeds die wet van Transvaal!