Op die vooraand van die langnaweek – en ‘n weeklange skoolvakansie – het die eThekwini-metroraad nóg ‘n strand gesluit weens swak watergehalte.
Die Westbrook-strand sal tot nadere kennis gesluit wees en gereelde watermonsters sal geneem word om die watergehalte dop te hou.
Dit kom nadat die Laguna-strand vroeër gesluit moes word weens swak watergehalte wat ‘n gevaar vir strandgangers kon inhou.
Die Durbanse stadsraad sê dat 21 strande steeds oop is en het besoekers gevra om hulself te vergewis van omstandighede by die betrokke strande wat hulle wil besoek.
Die Instituut vir Water- en Afvalwatertegnologie (IWWT) by die Durbanse Universiteit van Tegnologie het onlangs ‘n studie gedoen om te bepaal watter strande se E.coli-vlakke aanvaarbaar is vir mense om in te swem, en watter strande eerder vermy moet word.
Van die strande waar daar toetse gedoen is, is vier veilig gevind, naamlik die Noord-strand, Umhlanga, Golden Mile en die uShaka-strand.
Ses strande het buitengewone hoë vlakke van E.Coli, en besoekers word gewaarsku om nié by die strande te swem nie. Dit sluit in die Westbrook-strand, Bronze-strand, Virginia-strand, Umgeni Rivier, Blue Lagoon-strand en die Addington-strand.
Foto: SafariNow