Nederland kry mees regse regering ooit. Is daar brieke vir populisme?


Luister nou

Volgende

Nederland kry mees regse regering ooit. Is daar brieke vir populisme?

Nuuskommentaar: 16 Mei 2024

Deur: Herman Toerien

Vir baie waarnemers wat die politiek van groot dele van die wêreld nie mooi gevolg het nie, was dit ‘n skok toe die eens verguisde party van Geert Wilders as die sterkste party uit die onlangse verkiesing in Nederland getree het. Sedertdien is koalisieonderhandelinge gevoer, en is wyd bespiegel oor hoe daarin geslaag sou word om tot regeringsvorming te kom. Dit het ingesluit dat Wilders ‘n aantal tegnokrate sou insluit om klowe te oorbrug.

Na die aankondiging dat daar wel ‘n ooreenkoms bereik is, stel die Vlaamse koerant, De Standaard, dit onomwonde dat Nederland nou die mees regse regering ooit gekry het. Voorlopig kan met stelligheid gesê word dit is ligjare verwyder van die Joop den Uyl-era waar liberalisme tot die vlakke van permissiwiteit gevoer, en ook in ander lande soos die Swede van Olaf Palme oorheersend was. Maar tye het ook verander, en in Nederland het spesifiek het godsdiens as faktor so agteruitgegaan dat die eens kleiner Rooms-Katolieke Kerk nou meer lidmate as die Protestantse Kerke het. Dit was een van die hoofredes hoekom die oorwegende Protestantse Nederland en die oorwegend Rooms-Katolieke België, en Vlaandere in besonder, nie een staat kon vorm nie. Sekularisme wat dikwels tot ateïsme gedryf is het hierin ‘n rol gespeel.

Nou van waar dan die sogenaamde regse politiek? Niemand sal stellig meer kan stry dat die kwessie van migrante uit ander dele van die wêreld hierin ‘n oorheersende rol gespeel het nie. Die ou Nazi-woord, “omvolking” is selfs in die Vlaamse literatuur afgestof, en daar was selfs ‘n mislukte poging om dit as haatspraak vervolg te kry. Dit beteken eenvoudig dat die kernelemente wat ‘n volk kenmerk, deur vreemde tale, kulture en gebruike verdring word. Dit het oor die ganse Europa inslag gevind, en Finland het selfs grensposte met Rusland gesluit omdat die Russe vlugtelinge wat in hul land beland, weer help om die grens na Finland oor te steek.

Van die tradisionele begrippe van links en regs, of liberaal teenoor konserwatief,  het min bruikbaars oorgebly. In die plek daarvan word die woord “popularisme” nou dikwels ingespan, maar ook nie sonder probleme nie. Om Poetin, rump, Zuma, Orbán onder dieselfde populisme-kam te skeer is baie problematies.

Dit is seker ook geen verrassing nie dat die kwessie oor ‘n wyer front na iets groters herlei sal word – naamlik ‘n skynbare verhewiging van die Koue Oorlog. Dit impliseer dat Rusland, met pres. Wladimir Poetin aan die spits, die Weste probeer aftakel. Baie van hierdie vyandige optredes spruit waarskynlik uit Poetin se frustrasie met die hulp wat Oekraïne van die Weste kry, en dit vir hom moeilik maak om dit wat hy eens as ‘n beperkte militêre operasie beskryf het, afgerond te kry.

Propaganda speel nou al jare ‘n baie groot rol in hierdie stryd. Die groot propagandasentrum wat in St Petersburg gesetel was, het in die Weste die bynaam van “trolfabriek” gekry, en sy propagandspore is ook wêreldwyd bemerk. Dit is deur Pavel Prigozhin, wat meer bekend was as leier van die Wagner-huursoldate, gestig en gelei, maar het teenspoed met Poetin gekry na ‘n kortstondige rebellie. Dit is toe gesluit, maar is steeds aktief en word as Rusland se vernaamste propaganda-arm beskou. Nog vier ander instellings word vir ‘n kleiner aandeel genoem, maar almal is pas deur die Europese Unie op die sanksielys teen Rusland geplaas. Dit het gekom ten spyte van Rusland se waarskuwing dat teen Westerse joernaliste opgetree sal word.

Na die sluiting van die trolfabriek was waarnemers dit eens – die Russiese propaganda sal nie gestaak word nie. Daar is glo nog talle ander in Rusland. Maar een, Voice of Europe, het sy neus voorgekry. Dit is ‘n “nuuswebwerf” met ‘n You Tube-kanaal en is op sosiale mediasplatvorms soos Facebook betrokke.

Die “nuusdiens” word as ‘n instrument van pro-Russiese (lees Poetin) -propganda beskou, en is hoofsaaklik daarop gemik om ‘n stem aan mense op die uiterste regse kant van die politieke spektrum te gee. Daar was onthutsing in Europa toe dit ‘n toe Voice of Europe ‘n onderhoud met ‘n prominente lid van die Vlaams Belang geplaas het. Dié party word as in dieselfde dampkring as dié van Wilders beskou. Peilings toon nou dat dit die meeste steun in Vlaandere geniet. Ander peilings lui dat dit veral jong mans is wat die party steun. Dit is gebore uit vrees dat die migrante hul werksgeleenthede gaan ontneem. Jong vroue steun juis weer die liberale en groenes volgens peilings.

Een van die kritici het die nuwe “koue oorlog” soos volg aan Radio Free Europe beskryf: “Nie ‘n enkele koeël vlieg teen die EU nie. Daar is geen bomme nie. Ten minste nog nie.” “Maar Rusland voer ‘n oorlog deur die magte te ondersteun wat volgens hom alleen teen die konsensus in Europa werk.” En hierdie konsensus wat Poetin aanstoot gee, word in die artikel beskryf as “die hoof- liberaal-demokratiese konsensus in Europa.

Wilders het kort na sy party se verkiesingsoorwinning sy lof vir Poetin herhaal.

Rusland maak sy rug al stywer teen planne en pogings in die weste om sy eie planne te fnuik. Daar is nou ook gereeld uitsprake dat Rusland sy visier stel op die herwinning van Alaska, en pas is dit uitgebrei om ook Finland en die Baltiese state, Estland, Letland en Litaue in te sluit. Van die uitsprake kom egter ook van bekende Russiese propaganda-instellings, maar toe na Rusland se amptelike standpunt hieroor gevra is, was die antwoord nie baie gerusstellend nie. Daarvolgens is daar steeds sterk sentimente in Rusland om sy grense tot die grense van die ou Sowjet-Unie te herstel. Finland en Alaska was wel eens deel van die ou Tsaristiese Russiese ryk, maar nooit deel van die USSR nie.

Uit die eerste reaksies op die mislukte sluipmoord-aanslag op die pro-Poetin eerste minister van Slowakye, is dit ook reeds duidelik dat hierdie voorval gebruik gaan word om om die kloof tussen Rusland en die “hoof- liberaal-demokratiese konsensus in Europa” groter te kloof.

Opmerkings deur Russiese leiers dat die land moontlik kernwapens kan inspan, het  pas nuwe betekenis gekry toe aangekondig is dat taktiese kernwapens as deel van ‘n militêre oefening ontplooi gaan word. Amptelik word dit gedoen as teenvoeter vir provokasie deur die Weste. Kort-kort is daar ook berigte wat daarop dui dat Rusland hom op ‘n derde wêreldoorlog voorberei. By die beoordeling oor hoe werklik kern-dreigemente is, moet die ou waarheid onthou word: “Die geheim van die besit van kernwapens is om dit nie te gebruik nie.” Egipte kan byvoorbeeld nie waag om Israel aan te val om te vernietig nie, want Israel van die Aswandam bombardeer en Egipte so effektief uitwis.

Dit is in hierdie wêreld waar niks meer duidelik is wat dit voorafveronderstel was om te wees nie, dat propaganda al groter en groter impak het. Dit is nou dikwels nie eens meer nodig om te hou by ‘n ou beginsel van propaganda en strategiese kommunikasie nie, naamlik dat die beoefenaar daarvan nooit van regte leuens gebruik mag maak nie. Dit is omdat leuens, as dit ontbloot word, sleg kan boemerang. Maar, so lyk dit nou, maak dit werklik nie meer saak nie.

Populisme durf ook nie onderskat word nie. Toe dit met Trump se verkiesing tot president geblyk het dat hy werklik gaan deelneem, het die Huffington Post geskryf dat as iemand nuus oor die Trump-verkiesingsveldtog wil lees, moet hulle die koerant se vermaakbladsye volg. Maar Trump is wel verkies.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

insignia-air-fryer

Meer as 3-miljoen lugbraaiers herroep weens vlamme, oorverhitting

Untitled design

Menslike as langs Weskuspad gestort

gt1776021

Nóg ‘n KZN-strand sluit oor watergehalte

ENOCH2

Minister sê hy sal nié bedank nie

maxresdefault

Nuuskommentaar: Ongerymdhede in Netbal SA nie nuut

Ander Nuus Artikels

pexels-shvets-production-9775854
Solidariteit eis einddatum vir “rassewette wat deur Suid-Afrikaners verwerp word”
SENZO-MCHUNU
Die minister van polisie vra om verskoning nadat hy skoolhoof van verkragting beskuldig
Tshwane-water - foto met erkenning aan Randwater
VF Plus eis dringende optrede met Tshwane-watervoorsiening
insignia-air-fryer
Meer as 3-miljoen lugbraaiers herroep weens vlamme, oorverhitting
Untitled design
Menslike as langs Weskuspad gestort

Nederland kry mees regse regering ooit. Is daar brieke vir populisme?


Luister nou

Volgende