Luister nou

Na die Iran-oorlog is die wêreld ’n ander plek

Deur Pretoria FM Nuusspan

Jaco Kleynhans

In minder as ses weke is meer as 20 000 lugaanvalle deur die VSA en Israel op Iran uitgevoer. Honderde olietenkskepe kon nie deur die seestraat van Hormoes beweeg nie. Die ryk Golflande soos die Verenigde Arabiese Emirate, Katar, Bahrein en Saoedi-Arabië het vir die eerste keer in baie jare oorlog op hulle eie grondgebied ervaar en het in baie opsigte tot stilstand gekom. Tog was die gevolge van hierdie oorlog, wat ten minste voorlopig deur ’n skietstilstandooreenkoms vir twee weke gestaak is, baie wyer as net die gebeure in die Midde-Ooste. Dit het letterlik die wêreld vir altyd verander.

Die Amerikaanse president, Donald Trump, is waarskynlik deur ’n hele reeks gebeure oortuig om die militêre operasie teen Iran goed te keur. Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het sterk steun daarvoor gewerf. So ook pro-Israeliese groepe en meer intervensionisties-gesinde politici in Washington.

Trump is egter ook diep geraak deur die massaslagting wat in Januarie deur die Islamitiese Revolusionêre Wagkorps op duisende Iranese uitgevoer is. Trump het ook nog nooit die regime in Teheran vertrou om nie te probeer om ʼn kernwapen te vervaardig nie.

Gebeure in die Midde-Ooste die afgelope paar jaar het meegebring dat Iran se proksies, soos Hamas, Hesbolla, die Houthi’s en die Assad-regime in Sirië, almal óf heeltemal uitgeknikker óf dramaties verswak is. Sanksies het Iran se ekonomie grootskaalse skade berokken. Die bevolking van Iran was toenemend verdeeld. Dit was waarskynlik dus vir die Pentagon, wat duidelik jare lank aan die beplanning van ʼn potensiële aanval op Iran gewerk het, ʼn baie geskikte tyd om Iran aan te val.

Daar was egter ook geopolitieke oorwegings. Die afgelope vyftien maande is dit duidelik dat baie senior lede van die Trump-administrasie in Washington diep besorg is oor China se groeiende invloed in byna elke wêrelddeel en op byna elke vasteland. Die Trump-administrasie is ook uitgesproke bekommerd oor die risiko’s wat ʼn verdiepende driehoekverhouding tussen China, Rusland en Iran vir die wêreld in die toekoms kan inhou.

Trump en sy regering probeer sedert verlede jaar terugstoot teen Chinese invloed in veral Latyns-Amerika, maar ook in Europa, Afrika en die Midde-Ooste. ʼn Mens kan nie anders as om ʼn element hiervan in Trump se beweegrede vir die oorlog in Iran te sien nie.

Dit is dus selfs meer kommerwekkend dat dit die afgelope ses weke aan die lig gekom het dat China heelwat nouer met Iran saamgewerk het in die ontwikkeling en lewering van missiele as wat aanvanklik verwag is. Daar is selfs ernstige kommer in Washington dat China moontlik tydens die konflik missiele na Iran gesmokkel het. Verder het Rusland satellietbeelde van Amerikaanse weermagbasisse in Golflande, onder andere in Saoedi-Arabië, met Iran gedeel, wat tot dodelike aanvalle op van hierdie basisse gelei het.

Die president van Finland, Alexander Stubb, het sopas ʼn nuwe boek met die titel The Triangle of Power bekend gestel. Dit fokus op die reuse-omwenteling in geopolitieke betrekkinge wat deur die verswakking van die Weste en die opkoms van veral magte in die Ooste en Globale Suide teweeg gebring is.

Volgens Stubb beweeg die wêreld vanaf ʼn Westers-geleide unipolêre orde na ʼn driehoekige magstruktuur bestaande uit die Globale Weste, die Globale Ooste en die Globale Suide. Sy hele boek gaan dan oor ʼn pleidooi vir sogenaamde ‘waardegebaseerde realisme’ wat na sy mening lande in al drie “wêrelde” kan saambind.

Stubb stel dan ʼn aantal universele waardes voor wat gebaseer is op vryheid, fundamentele regte en internasionale reëls, diversiteit en die geskiedenis van nasiestate, streke en vastelande.

Dit alles klink baie mooi maar ons weet ook dat die Westerse post-Koue Oorlog-idealisme misluk het. Stubb se hoop vir waardegedrewe realisme klink ook na iets waarvoor daar waarskynlik te min aptyt bestaan en waarvoor daar te veel eiebelang in die pad staan.

Die oorlog in Iran het dit bewys. Hoewel dit ʼn oorlog was, en seker steeds is, wat die hele wêreld geraak het – veral weens die styging in kommoditeitspryse en selfs tekorte in olie en gas in sommige lande – was daar ʼn groot diversiteit van eiebelang wat op die konflik ingespeel het. Israel se veiligheidsbelang, Amerikaanse militêre hegemonie en pogings om Chinese invloed terug te dring, Rusland se pogings om die Weste te verswak en om binne alternatiewe netwerke Russiese mag te herbedink en China se eie magsmotiewe, en hoop dat die VSA in Iran verneder kon word, het alles op die konflik se ontwikkeling en uiteindelik die huidige pogings tot langtermynvrede, ingespeel.

Die Midde-Ooste sal in die toekoms anders lyk en funksioneer. Die seestraat van Hormoes is eenvoudig te veel van ʼn risiko vir stabiele olie- en gaslewering wêreldwyd. Alternatiewe deur pyplyne, kanale en uitvoere via die Rooisee sal die seestraat se rol verder verklein. ʼn Reuse- militêre opbou van Golflande is nou ʼn gegewe. Die ware skeidslyn tussen die Arabiese Golflande en Iran is verdiep. Israel het vir die eerste keer in twee dekades die volle oorhand oor Iran se proksies.

Die verhouding tussen die VSA en Europa, ook binne Navo, verkeer in ʼn krisis. Dit sal herbedink moet word. ʼn Blote ommekeer is nie meer moontlik nie – nie nadat enkele Europese lande geweier het dat Amerikaanse vegvliegtuie by hul lugmagbasisse aandoen vir brandstof nie.

Die Iran-oorlog het baie foutlyne, versteekte motiewe, en veiligheids- en ekonomiese risiko’s van die internasionale stelsel ontbloot. Die idee van ʼn waardegedrewe realisme is aantreklik, maar eintlik onrealisties. Vir nou gaan ons eerder groter globale wantroue, ʼn verdiepende magstryd en ʼn herbesinning oor ou bondgenootskappe sien. Daarmee saam sal die wapenwedloop, ekonomiese nasionalisme, energielokalisme en ander pogings tot die bestuur van risiko’s toeneem. In dit alles lê groot geleenthede opgesluit vir lande soos Suid-Afrika en ondernemings in Suid-Afrika indien die wysheid maar daar was om dit te ontsluit.

Kleynhans is die hoof van openbare skakeling by Solidariteit. 

Gewilde Nuus

V

Gryskrag: SASSA-toelaes moet nie van uitgerekte kaartproses afhang nie

Mbalula warns those assaulting on-duty police officers

Massaskietvoorvalle eis reeds 100de

Orania

Oraniërs stem anders in komende verkiesing

Ernst Roets

Wit kruise nou na Uniegebou

Kallie Kriel, Flip Buys, Dirk Hermann

VSA-debat jaag temperature op

Ander Nuus Artikels

Boer tot bord
Wanneer ’n boer vermoor word ….
Internasionale Perspektief nuut
VSA onttrek finaal uit Irak te midde van volgehoue onstabiliteit
V (1)
Eerste skenkerleweroorplantings by Raslouw Private Hospital
V
Gryskrag: SASSA-toelaes moet nie van uitgerekte kaartproses afhang nie
Mbalula warns those assaulting on-duty police officers
Massaskietvoorvalle eis reeds 100de

Luister nou