Die department van justisie en grondwetlike ontwikkeling beplan om ‘n nuwe kantoor te stig om oortredings van wette oor fluitjieblasers te hanteer.
Die minister, Mmamoloko Kubayi het ’n konsepwetsontwerp bekend gemaak om leemtes in die huidige wetgewing aan te spreek.
Die wetsontwerp stel voor dat enigiemand wat ’n fluitjieblaser se identiteit bekend maak, tot 15 jaar tronkstraf opgelê kan word.
Dit maak ook voorsiening vir ’n sentrale databasis vir openbaarmakings om ondersoeke beter te koördineer, terwyl die identiteit van fluitjieblasers beskerm sal word.
Die adjunkminister, Andries Nel sê die veiligheid van fluitjieblasers is ’n prioriteit en dat die regering hoop om die wetgewing so gou moontlik deur die parlement te kry.
Die vakbond-federasie, Cosatu, het op sy beurt die nuwe wetsontwerp verwelkom.
Die department het die publiek genooi om kommentaar te lewer op die wetsontwerp met die sperdatum op 14 Mei.