Dit is byna Kersfees en ook byna die einde van ‘n uitdagende 2021. Die meeste van ons sal seker onmiddellik aan talle voorbeelde kan dink van moeilike hekkies wat die afgelope jaar op ons pad geplaas is, en baie van ons sukkel dalk steeds om oor van hierdie hekkies te kom. Van ons het dalk geliefdes verloor; ander is dalk deur siekte geteister en baie mense het hulle werk en inkomste verloor en is met reg moedeloos aan die vooraand van die feestyd.
Die goeie nuus wat egter ten spyte van alles, bo alles uittroon, is dat die grootste geskenk van alle tye – die LIEFDE van ons Hemelse Vader – vandag en elke dag steeds deel van ons lewe is en bly! Hierdie liefde wat alle verstand te bowe gaan, kan niks en niemand van ons wegneem nie! Daar is nie genoeg woorde in ons woordeskat om die omvang van hierdie liefde te beskryf nie en Hy wat Liefde is, is selfs nog groter en groter! Die wonder van dit alles is dat ons hierdie liefde nie hoef te verdien nie – ons kan in elk geval nie. Ons hoef dit net in eenvoud opreg en eerlik te aanvaar!
Mag Johannes 3 vers 16 opnuut vir elkeen van ons hierdie Kersfees, en elke dag daarna, betekenis kry en sigbaar deel van ons lewens word – “God het die wêreld (plaas u eie naam hier) so liefgehad – en het ons vandag steeds so lief – dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” Hoe groot is Sy genade nie! Ons hoef nie vir een oomblik hieroor te twyfel nie! Ons hoef nie te wonder oor wat dalk in mooi papier onder ‘n kersboom toegedraai is nie. Ons weet Sy Seun is vir ons gebore en ons Verlosser leef! Kom ons gryp dit aan met groot dankbaarheid en maak dit deel van hoe ons elke dag as vrygekooptes lewe!
Ek wil u graag opreg bedank vir u volgehoue ondersteuning die afgelope jaar! Dankie dat u ons help dra en ons hande help versterk in ons poging om ons geloof, kultuur en pragtige taal verder uit te brei en uit te dra! U gebede en bydraes is van onskatbare waarde en ons het net die grootste waardering daarvoor! Saam dank ons ons Hemelse Vader vir Sy groot genade en vertrou ons op Hom om ons paaie gelyk te maak in 2022 sodat die klanke van Pretoria FM nog helderder oor groter gebiede gehoor kan word!
‘n Baie geseënde Kerstyd vir u en u geliefdes, gevul met Sy vrede en vreugde!
Hennie Koortzen Uitvoerende Hoof