Die DA sê die Gautengse regering se pogings om te verseker dat die Johannesburg-metro se water- en elektrisiteitsvoorsiening tydens die G20-leiersberaad veilig en ononderbroke bly, is ’n klap in die gesig van inwoners wat reeds ‘n geruime tyd met ernstige gebreke in dienslewering te kampe het.
Die party sê die beloftes van vinnige opknappings is onvolhoubaar vir inwoners wat oplossings benodig vir die voortdurende water- en kragonderbrekings, slaggate, misdaad en vervalle infrastruktuur.
Die provinsiale regering is besig met voorbereidings vir die G20-beraad wat later vandeesmaand plaasvind. Die G20-leiersberaad word by die Nasrec-konferensiesentrum in die suide van Johannesburg aangebied.
Die DA se leier in Gauteng, Solly Msimanga, sê die skielike opskerping van diensleweringsaksies voor die wêreldwye gebeurtenis maak ook ’n bespotting van inwoners.
Die Gautengse regering het intussen ’n streng waarskuwing uitgereik teen pogings om die G20-voorbereidings te ontwrig en het diegene wat infrastruktuur vandaliseer met tot 30 jaar-gevangenisstraf gedreig.
Die woordvoerder van die Gautengse regering, Elijah Mhlanga sê gewapende aanvallers het die geïnstalleerde G20-tekens by Nasrec asook straatligte en verkeersligte langs die R55-roete beskadig.
One Response
Ek stem saam met ou Solly.