Alta Strauss
Ek gesels met Louw van Reenen, uitvoerende voorsitter van die Beefmaster Groep, asook die voorsitter van die Rooivleisbedryfsliggaam. As jy hom egter vra, is hy in sy hart heel eerste ’n Christen, ’n besigheidsman en ’n boer. Hy deel met my ’n eerlike blik op hoe hy en ander rolspelers in landbou die huidige uitdagings ervaar en wat hulle sien vir die toekoms van ’n bedryf wat ’n kernrol speel ter ondersteuning van ons land se ekonomie. Wat uitstaan vanuit sy benadering is ’n sterk gevoel van dankbaarheid, veerkrag en ’n diep geloof in ’n doel wat groter is as die onmiddellike teëspoed.
Louw beklemtoon dat vloede heelwat skade vir baie boere tot gevolg gehad het, maar dat die reën steeds met dankbaarheid ontvang word, veral na jare van droogte en die wete dat swaarkrytye van droogte weer sal kom. Dit laat dink my aan ’n ander boer se woorde die anderdag: “Met reën kan ons weer paaie bou, maar wat maak mens met droogte? Daarom sal ons dankbaar bly.”
Dit laat my ook weereens besef dat dit vir boere altyd oor die groter prentjie gaan en nie ’n elkeen-vir-homself-benadering nie. Boere bou voort op die goed en die mooi wat die reën bring, en vind betekenis in spanwerk te midde van uitdagings.
Daar is ook baie ander uitdagings, soos bek-en-klouseer en hoër insetkostes wat prominent bly vir ons boere. Logistieke uitdagings en aflewering van produkte word ook bemoeilik met die Straat van Hormoes wat gesluit is, en die verhoogte koste en onverwagte vertragings wat dit tot gevolg het. Hierdie faktore het ’n negatiewe impak op marktoegang en pryse.
Tog bly daar hoop in Louw se woorde: “Ons is dankbaar dat daar steeds markte is wat ons kan bedien en dat ons produkte van wêreldgehalte kan lewer. Baie van ons gaan deur verskillende seisoene in ons lewens, maar wat my betref, is hierdie seisoen steeds een waarin die Here ons met genade seën, al is die uitdagings baie.” Jy sien sommer gou dat hierdie uitdagings as ’n sterk fondasie gesien word om op te bou vir voortsetting en uitbreiding, eerder as ’n struikelblok vir vooruitgang.
Die kernstrategie vir veeboere is oorlewing teen bek-en-klou seer, maar ook die ondersteuning van ander boere en belanghebbendes. Die doel is om saam te werk aan die herstelproses en sodoende die uitbou van ’n sterk bedryf, volhoubaarheid en voedselsekerheid vir die toekoms te verseker.
Louw glo dat sy besigheid en boerdery, net soos dié van ander rolspelers, ’n opdrag van die Here is; dat die Here boere en besighede hier geplaas het vir ’n rede. Dat dit die dryfveer moet wees, om te streef daarna om hierdie opdrag uit te voer tot die beste van ons vermoë soos wat die Here dit vir ons bepaal.
Dit is hierdie geloof en geestelike rigting wat die besluitneming en volharding in moeilike tye versterk en die morele kompas vorm. Ons boere gaan almal deur verskillende seisoene van leef en werk, maar almal is dit eens: Volhard moet ons volhard, in die Here geanker. Ons moet in God vertrou en glo dat Hy nou, net soos in die verlede, aan ons die buitengewone wysheid, insig en strategie sal gee vir die pad vorentoe. ’n Langtermynperspektief vir die toekoms.
My gesprek met Louw het in my hart ’n beeld geskets van ’n landboubedryf wat deur uitdagings gevorm word, maar ook deur geloof, hoop en gemeenskap. Dat die toekoms vir ons land se landbou lê in ’n gemeenskap wat mekaar ondersteun, in ’n bedryf wat voortdurend leer, aanpas en groei, ’n volk wat in die Here vertrou en die wete dat sy genade en liefde groter is as enige uitdaging wat ons mag beleef.
My hart loop oor van sekerheid. Sekerheid in ’n toekoms in die hande van ons Vader!
Strauss is ’n motiveringspreker en skrywer.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/05/Uitgawe-67-22-28-Mei-2026.pdf