Nuuskommentaar: 29 November 2023
Deur: Werner Human
Wat in die oggendure van 7 Oktober aan die suide van Israel afgespeel het was afskuwelik en sal vir altyd ʼn letsel op Israel-Arabiese verhoudinge laat. Die terreurgroep Hamas het op dié dag meer as 5 000 vuurpyle afgevuur, waarmee 1 200 Israelse burgers vermoor is en hulle het meer as 240 mense ontvoer, wat sedertdien aangehou word. Die dodetal het egter sedertdien natuurlik aansienlik gestyg met heelwat meer burgerlike sterftes in die Gasa-strook as in Israel.
Die aanval van Hamas was die bloedigste aanval in die geskiedenis van Israel wat die mees uitsonderlike oorlog teen Israel sedert die tweede Wêreldoorlog tot gevolg gehad het.
Heel tereg was die simpatie en medelye in dié tyd met Israel gewees.
Maar, nie lank na Israel se teen-offensief in die noorde van Gasa begin het nie, het kritiek uit verskeie dele van die wêreld begin ontstaan oor die oordrewe mate van Israel se optrede teenoor Gasa.
Die hewige kritiek op Israel laat egter belangrike inligting buite rekening, want hoe moes Israel in hierdie omstandighede optree? Dit is die moeite werd om in die volgende in gedagte te hou:
- Die groter streek waarbinne Israel geleë is, is in die beste van tye ongunstig. Alhoewel die Israel-Palenstynse verhouding sedert 1947 aan konflik en oorlog gekenmerk kan word oor aansprake op grond eerder as geloof, is Israel omsingel deur die Moslem-Arabiese wêreld met Egipte aan die suid-weste, Lebanon en Sirië in die noorde en noord-ooste, en die Wesbank en Jordanië aan die ooste.
- Buiten dat Israel geografies geïsoleer is, is Israel ʼn hoogs presterende land. Met ʼn bevolking van 9 miljoen mense spog Israel met ʼn bruto binnelandse produk per capita van $58 270 – van die hoogste ter wêreld. Veel hoër as die omliggende streek.
- Op ʼn politieke vlak is dit bewese dat Hamas (wat die Gasa-strook sedert 2007 regeer), die Palestynse Nasionale Gesagsliggaam (wat gedeeltes in die Wesbank beheer) en die Palestynse Bevrydingsorganisasie (wat die breër Palestynse bevolking verteenwoordig) nie belangstel in ʼn tweestaat-oplossing, of enige ander oplossing wat gepaardgaan met die erkenning van ʼn onafhanklike Israel nie. Die uiteindelike doel is die uitwissing van die staat van Israel, soos die stigtingsdokument van Hamas in 1988 duidelik stel.
- Hamas verbreek konvensie bepalings van oorlogvoering. Hulle lanseer doelbewus vuurpyle van residensiële gebiede, hospitale en ander digbevolkte gebiede, juis om Israel sodoende te forseer om daarop te vuur, wat lei tot burgerlike sterftes. Hamas vernietig ook openbare infrastruktuur, soos waterpype, wat in vuurpyle omskep word om verdere aanvalle teen Israel te loods.
Benewens nog talle saakmakende punte, word Israel teen ʼn onmoontlike standaard gehou terwyl onder andere, Hamas, Hezbollah, en in die agtergrond Iran, vrye teuels het om aanvalle na goeddunke te bedink en uit te voer.
Verskeie wêreldleiers beklemtoon tereg die duisende sterftes van onskuldige mense in Gasa, maar laat hulle min uit oor die baie ingewikkelde omstandighede waarin Israel hulle bevind.
Israel dra wel die verantwoordelikheid om die proporsionaliteit-beginsel te onderhou, betekende dat, waar dit redelikerwys voorsien kan word waar optrede tot burgerlike sterftes lei, die verlies sover moontlik beperk word ten einde militêre oogmerke te bereik.
Kritici, soos vroeër genoem, hou egter nie rekening met die onmoontlike omstandighede waarin Israel homself bevind nie, en daarom moet daar groter begrip vir Israel in hierdie omstandighede wees.
Foto – VOX