Luister nou

Globale magte moet by Kissinger oor diplomasie gaan leer

Deur Pretoria FM Nuusspan

Nuuskommentaar: 23 Mei 2023

Deur: Jaco Kleynhans

Die bekende Amerikaanse ouddiplomaat, politikus en skrywer, Henry Kissinger, sal later die week sy 100ste verjaardag vier. Kissinger se verjaardag, slegs enkele dae ná ʼn historiese G7-beraad in Hirosjima in Japan en op ʼn tydstip van ʼn hernude globale magstryd, staan vol simboliek.

Kissinger was van 1969 eers die Amerikaanse president Richard Nixon se nasionale veiligheidsraadgewer en daarna minister van buitelandse sake. Heinz Alfred Kissinger is op 27 Mei 1923 in Beiere, Duitsland, gebore. In 1938 het hy as Jood na Amerika gevlug. Meer as tien van sy familielede sou uiteindelik in die Joodse volksmoord in Duitsland sterf. Kissinger het die Rynrivier in Februarie 1945 as Amerikaanse soldaat oorgesteek en daarmee deelgeneem aan die uiteindelike begin van die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Vir Kissinger was die stryd teen ‘n Derde Wêreldoorlog in die 1970’s en 1980’s van persoonlike belang.

In ʼn media-onderhoud vroeër vanjaar het Kissinger die huidige globale magstryd, en in besonder die stryd tussen die VSA en China, vergelyk met die situasie in Europa voor die Eerste Wêreldoorlog. Kissinger voorspel dat die spanning tussen die VSA en China noodwendig op onvermydelike konflik afstuur.

Tydens die G7-beraad die afgelope naweek in Hirosjima het die lede van die Groep van Sewe ʼn sterk bewoorde verklaring, die sterkste in baie jare, uitgereik wat geen doekies omdraai oor waarom en hoe dié lande beplan om China se toenemend aggressiewe ekonomiese en militêre benadering in te perk nie.

Kissinger was tydens die Koue Oorlog een van die belangrikste en invloedrykste rolspelers in die VSA en sy benadering van ʼn sogenaamde “driehoekige diplomasie” waarvolgens die VSA met China begin saamwerk het in ʼn poging om spanning tussen die Sowjetunie en China te bewerkstellig, was – terugskouend – ʼn meesterlike strategie wat uiteindelik verhoed het dat die Sowjetunie en China saam die VSA se posisie kon uitdaag.

Die Japannese premier, Foemio Kisjida, wat vanjaar se beraad gelei het, verstaan egter, soos Kissinger vyf dekades tevore, dat die opbou van ʼn nuwe magsblok die grootste bedreiging vir die G7-lande kan inhou. Juis daarom is die staatshoofde van Indië, Indonesië en Brasilië ook na die beraad genooi. Dié drie lande verteenwoordig ʼn kwart van die wêreld se bevolking en al drie is onverbonde lande wat ʼn versigtige benadering in hul verhoudinge met die vrye demokratiese Weste en die outoritêre geslote Ooste volg.

Die G7-beraad se uitreik na opkomende magte soos Indië, Indonesië en Brasilië is belangrik. Dit sal met groter erns ook in Afrika en ander lande in Suid-Amerika, die Midde-Ooste en Asië moet gebeur.

Kissinger se raad in ʼn onlangse artikel in The Economist is dat die demokratiese magte in die wêreld uitsonderlike diplomasie aan die dag sal moet lê om ʼn Derde Wêreldoorlog te verhoed. Kissinger gaan sover om te voorspel dat die toekoms van die wêreld hiervan kan afhang.

Op Henry Kissinger se 100ste verjaardag is die wêreld ʼn gevaarliker plek as die afgelope drie tot vier dekades. Ons kan maar net hoop dat wyse leiers, soos diegene saam met wie Kissinger groot konflik tydens die Koue Oorlog deur diplomasie help vermy het, sy raad sal volg. Die alternatief kan katastrofies wees.

KOOP NOU KAARTJIES – https://itickets.co.za/events/472390

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Fotokrediet: Atlantic Council

Iran se missielprogram is nie deel van die onderhandelinge nie

Telefoon

56% van polisiekantore antwoord nie

Fotokrediet: Tripadvisor

Toeris noodlottig in ‘n skietongeluk gewond

Fotokrediet: BusinessTech

Motoriste kan veranderinge verwag

Parlement

Nuwe reëls vir artikel 89-proses

Ander Nuus Artikels

Internasionale Perspektief nuut
Nie ʼn perfekte ooreenkoms nie, maar gee dit ʼn kans…
Thoko Didiza
Phala Phala-aanklagkomitee: Geen geskiktheidsvereistes vir nou
Fotokrediet: Netwerk24
Binnelandse sake gaan langer ure werk
Fotokrediet: Atlantic Council
Iran se missielprogram is nie deel van die onderhandelinge nie
Telefoon
56% van polisiekantore antwoord nie

Luister nou