Vanaand met Pienaar Lochner

Weeksdae
18:00 - 22:00

Luister nou

Volgende

Eers El Salvador en nou Argentinië slaan radikale nuwe politieke rigting in

Nuuskommentaar: 21 November 2023

Deur: Jaco Kleynhans

Sondag se verkiesing van Javier Milei, ʼn eksentrieke libertariese ekonoom en politieke buitestaander, as Argentinië se nuwe president het reeds vir ʼn reuse-opskudding gesorg. Milei, wat in byna elke peiling agtergeloop het teen Sergio Massa, Argentinië se huidige minister van ekonomie en ʼn lid van die magtige regerende Peronistiese beweging wat Argentinië reeds vir dekades regeer, het uiteindelik Sondag se verkiesing gemaklik met 56% van die stemme gewen.

Argentinië was ʼn eeu gelede nog een van die tien rykste lande ter wêreld. Vandag leef 40% van die bevolking in armoede. Die land se inflasie staan op 143%. Die Argentynse peso het reeds 90% van sy waarde teen die Amerikaanse dollar verloor.

Milei se veldtog was radikaal. Hy stel voor om die peso met die dollar te vervang, Argentinië se sentrale bank te sluit, handel met kapitalistiese nasies soos die VSA bó handel met China te prioritiseer en om verskeie staatsdepartemente te sluit in ʼn  poging om Argentinië se reusebesteding hok te slaan.

Sondag se verkiesing van Milei dui op hoe desperaat ʼn meerderheid van Argentyne tans is. Dit dui egter ook op die bereidwilligheid van ʼn meerderheid van kiesers om verby die gevestigde politieke orde te tree en ʼn radikaal-konserwatiewe politikus die geleentheid te bied om hulle land op ʼn totaal nuwe koers te plaas.

Milei se verkiesing sluit aan by die verkiesing van Nayib Bukele as president van El Salvador in 2019. Toe Bukele, ook ʼn politieke buitestaander, verkies is, was El Salvador een van die lande met die hoogste misdaadsyfer ter wêreld. Hierdie klein landjie in Sentraal-Amerika met 6,3 miljoen burgers, word omring deur selfs meer sukkelende lande soos Honduras en Guatemala, en geweldsmisdaad en korrupsie het dié land tot onlangs lamgelê.

Bukele is toe in 2019 as president verkies en hy het onderneem om die misdaadprobleem en korrupsie onmiddellik aan te spreek en die land se ekonomie te laat groei. Nou, vier jaar later, toon die resultate dat Bukele se radikale planne vir El Salvador toenemend geslaagd is.

El Salvador se moordsyfer het sedert Bukele verkies is tot ʼn historiese laagtepunt gedaal. Daar vind tans 50% minder moorde per jaar plaas as voor sy verkiesing. Meer as 71 000 bendelede is in vier jaar deur duisende nuwe polisielede in hegtenis geneem, suksesvol vervolg en tronk toe gestuur.

Vandag is korrupsie in El Salvador aansienlik minder en bendegeweld is grootliks uitgewis. Die gevolg hiervan is toenemende buitelandse beleggings wat tot gesonde ekonomiese groei lei.

Beide Milei en Bukele is konserwatief, maar ook radikaal in hulle politieke denke oor watter soort oplossings vir ernstige ekonomiese en ander uitdagings nodig is. Sou Milei daarin slaag om Argentinië oor die volgende paar jaar uit sy diepliggende krisis te lei, kan hy saam met Bukele en ʼn groeiende nuwe groep wêreldleiers ʼn werklike alternatief tot die huidige gevestigde orde daarstel.

Verkiesings vandeesweek in Nederland, asook in talle ander Europese lande soos België en Oostenryk oor die volgende paar maande, kan ʼn aanduiding gee of ʼn wêreldwye verskuiwing weg van die ou politieke orde besig is om te ontwikkel. Intussen kan ons gerus dophou wat in Argentinië en El Salvador gebeur.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

BEESTE-1

Nuwe uitbreking van bek-en-klouseer in die Vrystaat bevestig

Speelgoedgeweer

Kapers probeer polisiebeampte met speelgoedgeweer beroof

BEIJING, CHINA - MARCH 22:  President of Cameroon Paul Biya with Chinese President Xi Jinping (not pictured) attend a signing ceremony at The Great Hall Of The People on March 22, 2018 in Beijing, China. At the invitation of Chinese president Xi Jinping, President Paul Biya of the Republic of Cameroon will pay a state visit to China from March 22nd to 24th.  (Photo by Lintao Zhang/Getty Images)

Wêreld se oudste dienende staatshoof weer verkiesbaar

donald-trump-gettyimages-687193180

Trump-tarief: Wat hou die “oes” vir ons in?

Caster

Europese hof beslis dat Caster Semenya nié voorheen ‘n regverdige verhoor gekry het nie

Ander Nuus Artikels

xr:d:DAFscQxUTco:18,j:3303791048458708132,t:23082412
DBV ruk resiesperdbedryf in die bek
pexels-yungsaac-2119758
Skrikwekkende eetgewoontes onder SA studente
iStock-636725972-e1653556428313
Verdagte stroper se liggaam in Krugerwildtuin gevind
BEESTE-1
Nuwe uitbreking van bek-en-klouseer in die Vrystaat bevestig
Speelgoedgeweer
Kapers probeer polisiebeampte met speelgoedgeweer beroof

Vanaand met Pienaar Lochner

Weeksdae
18:00 - 22:00

Luister nou

Volgende