Luister nou

Dit is gewone mense teen die elite in Weste se stryd teen massa-immigrasie

Deur Pretoria FM Nuusspan

Nuuskommentaar: 16 Januarie 2024

Deur: Jaco Kleynhans

In elke Westerse land, van die Verenigde State van Amerika (VSA) tot die Verenigde Koninkryk, in die hele Wes-Europa en selfs in lande soos Australië en Nieu-Seeland is ʼn groot meerderheid van die bevolkings sterk gekant teen massa-immigrasie. Selfs in Suid-Amerikaanse lande soos Chili, Argentinië en Uruguay is gewone burgers moeg vir die instroming van onwettige immigrante uit armer lande.

Massa-immigrasie, en veral onwettige immigrasie, is die enkele politieke kwessie wat vanjaar ʼn reuse-impak op Westerse regerings, verkiesings en uiteindelik die toekoms van die Westerse beskawing kan hê. Die wêreld beleef tans ʼn reusebevolkingsverskuiwing met miljoene mense uit arm, dikwels falende lande in veral Afrika, Sentraal-Amerika, die Midde-Ooste en Asië wat na Westerse lande stroom.

In die VSA het tussen ses en sewe miljoen mense in die eerste drie jaar van Joe Biden se presidentskap onwettig na die VSA geïmmigreer. ʼn Meerderheid van Amerikaners wil strenger immigrasiebeheer sien en dit is reeds duidelik dat onwettige immigrasie een van die belangrikste kwessies in die Amerikaanse presidentsverkiesing vanjaar gaan wees.

In Europa was die reusetoename in wettige en onwettige immigrasie na Nederland een van die hoofredes waarom kiesersentiment in November verlede jaar skerp na regs geswaai het en sowat twee derdes van die kiesers vir regse partye gestem het. ʼn Nuwe regering, wat binnekort saamgestel sal word, gaan waarskynlik streng wetgewing teen onwettige immigrasie instel en die getal mense wat jaarliks om asiel kan aansoek doen, sal ook wesenlik verminder.

Ook in Duitsland, Oostenryk, Swede en Finland is daar sterk burgerlike protes teen massa-immigrasie. In Swede en Finland het die regerings reeds begin om immigrasie te beperk. In vanjaar se verkiesing in Oostenryk gaan twee regse partye na alle verwagting wen wat tot streng nuwe wette teen massa-immigrasie sal lei.

Een derde van alle mense wat in Duitsland woon, het ʼn immigrante-agtergrond. Die meeste Duitsers is siek en sat vir die gevolge van massa-immigrasie wat insluit ʼn toename in misdaad, ʼn behuisingstekort, reusebesteding aan toelae vir vlugtelinge en immigrante en ʼn verval in die Duitse kultuur en identiteit. Verkiesings vind vanjaar in drie Duitse deelstate plaas en kiesers daar sal na alle waarskynlikheid sterk standpunt inneem teen immigrasie.

In Brittanje het die Konserwatiewe Party, wat reeds vir langer as ʼn dekade aan bewind is, totaal misluk om immigrasie te stuit. Meer as ʼn miljoen mense het verlede jaar wettig en onwettig in Brittanje aangekom. Daar word verwag dat die Britte later vanjaar in ʼn algemene verkiesing na die stembus sal gaan en dat die Konserwatiewe Party ʼn reusenederlaag gaan ly.

Een van die groot uitdagings vir die meeste Westerse lande en regerings is egter die voortdurende gedienstigheid aan sogenaamde internasionale reg. Terwyl ryk Midde-Oosterse lande soos Katar en Saoedi-Arabië en Oosterse lande soos China, Japan en Suid-Korea bykans geen vlugtelinge inneem nie en ʼn streng anti-immigrasiebeleid volg, laat Westerse lande hulle beleid bepaal deur aspekte soos die Europese Konvensie oor Menseregte, verdrae van die Verenigde Nasies en algemene persepsies oor die regte van vlugtelinge.

Teen die huidige tempo van immigrasie, sal die Westerse beskawing oor enkele dekades nie meer bestaan nie. Westerse identiteite en kulture sal heeltemal verlore gaan. Ons sal oor die volgende paar maande sien of gewone burgers in Westerse lande gereed is om die finale streep teen massa-immigrasie te trek.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Fotokrediet: VF Plus

RDK beveel drie regters aan

Fotokrediet: Netwerk 24

SANW spandeer miljarde aan huurvlugte

Fotokrediet: Solidariteit netwerk

Wêreldonderwysersdag word vandag gevier

Boer tot bord

Wanneer ’n boer vermoor word ….

Internasionale Perspektief nuut

VSA onttrek finaal uit Irak te midde van volgehoue onstabiliteit

Ander Nuus Artikels

Petrolpomp brandstof
Regering maan teen brandstof-paniekaankope
Bemarkingsoproepe
Ongewenste bemarkingsoproepe binnekort iets van die verlede
Fotokrediet: EWN
Polisie ondersoek moontlike sluipmoord op Feroz Khan se familielid
Fotokrediet: VF Plus
RDK beveel drie regters aan
Fotokrediet: Netwerk 24
SANW spandeer miljarde aan huurvlugte

Luister nou