Nuuskommentaar: 24 November 2023
Deur: Ernst Roets
Teen hierdie tyd is dit geen geheim meer nie dat kaderontplooiing in wese oor mag gaan. Dit is die regerende orde se strategie om hul greep op die “magshefbome” te versterk deur strategiese posisies met lojaliste te vul. Dit is egter nie die hoofrede wat vir hierdie praktyk aangevoer word nie.
In teorie is kaderontplooiing noodsaaklik om toe te sien dat die doelwitte van die bevrydingstryd bevorder word. Dié praktyk is nie uniek aan Suid-Afrika nie. Dit is in die afgelope eeu veral in die kommunistiese wêreld toegepas.
In die Sowjetunie is kaderontplooiing as noodsaaklik geag om toe te sien dat die staat doeltreffend funksioneer. Lojaliteit aan die Kommunistiese Party was ʼn onvoorwaardelike vereiste, maar ʼn kader moes meer as net lojaal wees. Ideologiese belyning, vaardigheid en leierseienskappe was ook noodsaaklik. Die kaders was dus – ten minste in teorie – die beste van die bestes. Daarom moes die kaders in strategiese posisies geplaas word sodat die party se ideologie doeltreffend toegepas word omdat dit kwansuis die enigste manier was om die mense te bevry.
Die Chinese kommunis, Mao Zedong, het ʼn kader beskryf as iemand wat deeglik in kommunisme geskool, polities visionêr, bekwaam, geesdriftig, selfopofferend, selfgeldend en standvastig is. ʼn Kader is dus ʼn kombinasie van ideologiese diepte en vaardigheid.
Die ideologiese leier van die Kubaanse Revolusie, Che Guevara, het ʼn kader beskryf as iemand wat voldoende politieke ontwikkeling bereik het om die groter opdragte wat uit die sentrale owerheid voortspruit, te kan interpreteer, sy eie te maak en dit as ʼn oriëntasie aan die massas oor te dra, maar wat terselfdertyd ook die sentiment van die massas kan waarneem en vertolk.
Die voormalige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, het kaderontplooiing onlangs verdedig met die woorde: “Die enigste ding wat verkeerd is met die korrekte ontplooiing van kaders, is die uitsluiting van nie-partylede. Maar wat vaardighede betref, beteken kaderontplooiing soos gesien in China en Singapoer om die beste en mees geskikte vir doel binne ʼn party te ontplooi.”
Die onderliggende vertrekpunt is dus oral dieselfde: Kaderontplooiing is nodig en dit sal werk omdat die ideologie wat dit onderlê korrek is.
Tog misluk kaderontplooiing oor die wêreld heen.
In Suid-Afrika is die mislukking daarvan veral skouspelagtig. Die ineenstorting van staatsinstellings en -funksies is welbekend. Die Zondo-kommissie het bevind dat kaderontplooiing tot verhoogde korrupsievlakke lei en dat dit ongrondwetlik is. Selfs die minister van finansies, Enoch Godongwana, het versoek dat die Nasionale Tesourie van kaderontplooiing vrygestel word sodat dit doeltreffend kan funksioneer.
Tog klou die kaders verbete hieraan vas. Die ANC-voorsitter, Gwede Mantashe, sê dat as dit nie vir kaderontplooiing was nie, sou apartheidsamptenare steeds die land regeer het. Adjunkpresident Paul Mashatile ontken dat kaderontplooiing vir wanbestuur blameer kan word, juis omdat die regerende party met behulp van kaderontplooiing toesien dat “die beste” deur die regering aangestel word om die werk te doen.
Dit is hoogs onwaarskynlik dat die regerende party ooit van hierdie beleid sal afstand doen. Daar is ʼn eenvoudige verklaring hiervoor: In Suid-Afrika word die ganse teorie agter kaderontplooiing onderlê deur die vertrekpunt dat die bevolking slegs deur die ANC se rasnasionalistiese-sosialistiese ideologie bevry kan word. Kaderontplooiing is die manier om hieraan uitvoering te gee. Om dus toe te gee dat kaderontplooiing misluk is om toe te gee dat die ideologie misluk. Die owerhede se weiering om die werklikheid te erken maak egter geen verskil aan die werklikheid self nie. Die werklikheid is dat kaderontplooiing inderdaad misluk, nie bloot omdat dit verkeerd toegepas word nie, maar omdat dit deur ʼn ideologiese flop onderlê word.