Luister nou

Die miaausleurende wêreld van Cats

Deur Pretoria FM Nuusspan

Esté Gross

Ná 25 jaar is Cats terug in Suid-Afrika – ’n hoogtepunt vir Andrew Lloyd Webber-aanhangers. Dis immers nie elke dag dat die ikoniese megamusiekblyspel op jou voorstoep kattemaai nie.

Die Jellicle-katte maak dit ook sommer vanuit die staanspoor duidelik in “The Naming of Cats”: om ’n kat ’n naam te gee is ’n saak wat met erns bejeën moet word. T.S. Eliot waarsku jou ook betyds in sy gedig:

The Naming of Cats is a difficult matter,
It isn’t just one of your holiday games;
… a cat must have THREE DIFFERENT NAMES.

Maar laat die katte sommer self die leviete vir jou op hulle vindingryke manier  voorlees.

Indien jy nie vertroud is met die geliefde karakters soos Macavity, Grizabella, Old Deuteronomy en Mr Mistoffelees nie, is hierdie inligting spesiaal vir jou:

Cats se  première was op 11 Mei 1981 in die New London Theatre in Londen se West End. Dit is gebaseer op T.S. Eliot se poësieversameling Old Possum’s Book of Practical Cats (1939).

Die verhaal speel by die Jellicle-katte se jaarlikse bal af, wat in die geheimsinnige skrootwerf plaasvind. Hier word ’n kat gekies wat na die Heaviside Layer kan vertrek om daarvandaan in ’n nuwe lewe hergebore te word.

Interessant genoeg was Cats so byna nie ’n musiekblyspel nie. Lloyd Webber het aanvanklik beoog om ’n konsertstuk te skryf, in die styl van Sergei Prokofiev se Peter and the Wolf. Die klassieke invloed is deurgaans in die produksie hoorbaar. Die aanvanklike titel was Practical Cats en dit is in 1980 as ’n liedsiklus by die Sydmonton-fees opgevoer.

Lloyd Webber het T.S. Eliot se weduwee, Valerie Eliot, genooi na die uitvoering, wat toe ’n ongepubliseerde gedig met die titel “Grizabella: The Glamour Cat” vir hom gegee het. Die gedig sou Lloyd Webber oortuig om die werk in ’n musiekblyspel te omskep, met die einste Grizabella wat die ikoniese lied “Memory” in die produksie sing.

Met die voortreflike vertolking van Cindy Ann Abrahams as Grizabella, King B as Old Deuteronomy, Dylan Janse van Rensburg as Rum Tum Tugger, Che-jean Jupp as Munkustrap en Stephan van der Walt as Admetus/Macavity,  is die Suid-Afrikaanse produksie van hoogstaande gehalte.

Cats laat jou wel so ietwat anders kyk na jou kieter by die huis, en laat jou nadink oor die vele geheime name wat hulle heet, waarvan jý waarskynlik nooit van sal weet nie…

Nog interessante feite oor Cats

  1. Lloyd Webber is geïnspireer deur die dansgroepe van die laat sewentigerjare. Hy maak veral melding van Hot Gossip van die choreograaf dame Arlene Phillips.
  2. Dame Judi Dench sou aanvanklik die eerste Grizabella op West End wees. Sy moes onttrek weens ’n dansbesering wat sy tydens repetisies opgedoen het. Grizabella is gevolglik deur Elaine Paige gespeel. Betty Buckley was die Grizabella op Broadway.
  3. Ten spyte van aanvanklike bespotting, en ’n tweede verband op Lloyd Webber se huis om Cats ’n werklikheid te maak, het Lloyd Webber met die waagstuk laaste gelag, met die produksie wat sommer veel meer as nege lewens beleef het.

Cats word aangebied deur Pieter Toerien en GWB Entertainment, in samewerking met die Cape Town Opera-geselskap.

Dit het eers in Artscape in Kaapstad gaan draai en is van 17 Januarie tot 22 Februarie 2026 te sien by Montecasino Teatro in Johannesburg.

Kaartjies wissel tussen R280 en R580 en is beskikbaar by Webtickets.

Twee gelukkige luisteraars kan elk ’n dubbelkaartjie na Donderdag 5 Februarie se vertoning wen. Al wat jy moet doen, is om die volgende vraag korrek te beantwoord: Op watter datum was Cats se première? Stuur jou antwoord saam met jou volle name en kontaknommer na [email protected].

Gewilde Nuus

Betoging - March and March

Binnelandse Sake oorskry deportasiebegroting

Fotokrediet: Medium

Skaars haai spoel in die Weskus uit

Mponeng-myn

WNNR toets KI-toepassing vir rotsveiligheid in mynbou

Fotokrediet: Times of Eswatini

Madlanga wys aansoek van Vusimuzi “Cat” Matlala van die hand

Fotokrediet: BBC

Wares verskyn vandag in Wynberg

Ander Nuus Artikels

Valke-kar
Valke lê ernstige wanpraktyke bloot in verdedigingsdepartement
Fotokrediet: News24
NSFAS staak befondsing aan duisende
Kokaïen 6
SAID lê beslag op reusedwelmvonds
Betoging - March and March
Binnelandse Sake oorskry deportasiebegroting
Fotokrediet: Medium
Skaars haai spoel in die Weskus uit

Luister nou