Die departement van binnelandse sake sê duisende Suid-Afrikaners het net meer as ’n maand om hul identiteite te bevestig, anders kan hul identiteitsdokumente ongeldig verklaar word.
Miljoene ID’s is geblokkeer nadat onreëlmatighede in die Nasionale Bevolkingsregister opgespoor is, maar meer as 2 miljoen is reeds weer geaktiveer.
Nog nagenoeg 370 000 mense het tot 10 Junie om met ondersteunende dokumente by die departement aan te meld en hul besonderhede te verifieer.
Volgens amptenare is die proses deel van ’n langtermyn poging om die bevolkingsregister te suiwer en terug te voer na 1994 se samesmelting van verskillende administratiewe stelsels.
Die departement sê hy ondersoek tans ook ID’s wat voor November 2022 geblokkeer is.