Die VF Plus waarsku dat die Groen Skerpioene in die Noord-Kaap hul angel weens ’n ernstige personeeltekort en ‘n gebrek aan samewerking tussen owerhede, verloor het.
Die party het tydens ‘n oorsigbesoek aan die provinsiale departement van landbou, omgewingsake en grondhervorming gevind dat daar slegs een ondersoeker is wat die hele provinsie moet oorsien. Verskeie poste is vakant weens ’n gebrek aan fondse.
Die besoek het gevolg ná vrae oor skaars plante wat onwettig uit Namakwaland verwyder en later deur die polisie in beslag geneem is.
VF Plus-lede het plastieksakke met dooie plante gesien wat vir ondersoek gehou word, maar reeds verrot het.
Volgens die departement kan hierdie plante nie weer geplant word nie. Die polisie en howe vereis glo dat die plante as bewysstukke bewaar word – selfs al neem die hofprosesse jare.