Esmarie Yssel
Forum for South Africa, FOSA, het ’n amptelike versoek aan die regering gerig vir die herinstelling van die doodstraf.
Dié groep – wat hom beywer vir sosiale geregtigheid en menseregte – meen die doodstraf moet ingestel word spesifiek vir dié oortreders wat met opset moor.
FOSA het sy oproep op die regering opnuut belig, nadat die jongste misdaadsyfers daarop dui dat 64 mense elke dag in Suid-Afrika vermoor word.
Die groep se nasionale leier, Tebogo Mashilompane, meen die reg tot lewe, soos dit in Artikel 11 van die Grondwet vasgelê word, word elke dag geskend, terwyl dit ongestraf bly.
FOSA het reeds in Junie vanjaar – toe die parlement voorleggings vir grondwetwysigings oopgestel het – sy voorstel ingedien. Die standpunt is gestel dat individue wat opsetlik die lewe van ander neem geen waarde aan lewe heg nie en daarom die hoogste moontlike gevolg moet dra.
Die parlement het egter tot dusver nog nie op die voorstel gereageer nie.
FOSA het daarom sy oproep herhaal en gesê hulle staan saam met die slagoffers, hul families en wetsgehoorsame burgers wat veiligheid, menswaardigheid en geregtigheid verdien.
“’n Oog vir ’n oog is nie ’n oproep tot vergelding nie, maar ’n oproep tot geregtigheid, afskrikking en die herstel van die heiligheid van menslike lewe. Suid-Afrikaners kan nie in vrees leef terwyl geweldsmisdadigers sonder gevolge optree nie,” het Mashilompane gesê.