11 November 2024
65 onderwysers is die afgelope 18 maande permanent uit die beroep geskors nadat hulle aan seksuele wangedrag skuldig bevind is.
Die Raad vir Arbeidsverhoudinge in die Onderwys het bevestig dat die name van dié leerkragte by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ingedien is vir insluiting in die Nasionale Kinderbeskermingsregister.
Dit volg nadat daar tydens verhore bevind is dat hulle nie geskik is om met kinders te werk nie.
Nog ‘n onderwysliggaam, die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders, het sestien onderwysers onbepaald van die register geskrap nadat hulle tussen April verlede jaar en Maart vanjaar skuldig bevind is aan seksuele wangedrag.
Volgens die raad is 1 824 sake van onderwysers se beweerde wangedrag in dieselfde tydperk deur die nege provinsiale onderwysdepartemente by die nasionale onderwysdepartement aangemeld. 716 van dié klagtes was vir beweerde lyfstraf, en 159 vir beweerde seksuele wangedrag.