44 mans van Ethiopië is vroeg vanoggend uit ‘n huis in Parkmore in Sandton gered, waar hulle glo reeds ‘n geruime tyd aangehou is.
Die polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Mavela Masondosê die polisie is omstreeks 01:30 vanoggend na die toneel ontbied nadat bure vreemde geluide uit die huis gehoor het.
Volgens Masondo is 17 mans in een vertrek, en 24 in ‘n ander vertrek van die huis aangehou. Hy sê een van die slagoffers het aan die polisie gesê dat hulle van Ethiopië na die huis in Suid-Afrika gebring is.
Masondo het aan Netwerk24 gesê dat ander Ethiopiërs in Suid-Afrika glo tussen 30- en R50 000 per persoon as losprys eis. Hy sê die mans is onder haglike omstandighede aangehou en is uitgehonger.
Die mense is waarskynlik onwettig in die land. Masondo sê die ondersoek duur voort.
Intussen het ActionSA se woordvoerder, Lerato Ngobeni in reaksie gesê dat mensehandel aan die toeneem in Suid-Afrika is.
Volgens haar is 17 van die slagoffers minderjariges, en is van hulle ook van Bangladash. Sy sê die mans is met die belofte van werk na Suid-Afrika gelok.
Ngobeni sê hierdie voorval kom kort nadat 26 mense vroeër die jaar uit ‘n huis in Sandringham gered is. In Augustus verlede jaar is 90 mense in Sunningdale gered, en in Augustus 2023 is 26 mense in Benoni gered nadat hulle ook aangehou is.
Sy meen hierdie kwessie is nie meer ‘n sogenaamde nasionale vernedering nie, maar eerder ‘n nasionale noodgeval. Ngobeni meen dit is maklik vir mensehandel sindikate om hier hulle misdade te pleeg weens die swak bemande grense, korrupte owerhede en ‘n regering wat nie sy landsburgers beskerm nie.
Ngobeni sê dit is tyd dat die Suid-Afrikaanse regering die probleem van mensehandel ernstig opneem.
FOTO’S: EWN