2024 begin al te veel soos 1914 voel


Luister nou

Volgende

2024 begin al te veel soos 1914 voel

Nuuskommentaar: 7 Maart 2023

Deur: Jaco Kleynhans

Dit sou sekerlik onverantwoordelik wees om bloot ʼn kliniese parallel te trek tussen wat tans in die wêreld gebeur en wat voor die Eerste Wêreldoorlog afgespeel het. Maar dit is tog ook belangrik om te erken dat daar wel ooreenkomste bestaan. Hierdie ooreenkomste beteken nie noodwendig dat ʼn wêreldoorlog voor die deur staan nie, maar wel dat die risiko vir globale konflik teen ʼn gevaarlike pas toeneem en dat die swakhede, omstandighede en risiko’s wat vorige groot globale konflikte, soos die Eerste Wêreldoorlog voorafgegaan het, toenemend weer aanwesig is.

Verlede week is talle gevaarlyne in verskeie wêrelddele oorgesteek wat wel ʼn duidelike parallel is met die opbou van die spanning wat tydens 1914 ook aanwesig was. In Parys het die Franse president, Emmanuel Macron, verras toe hy tydens ʼn byeenkoms van Westerse leiers voorgestel het dat Europese lande dit moet oorweeg om soldate na Oekraïne te stuur om dié land se weermag by te staan. President Wladimir Poetin van Rusland het ʼn dag later in sy jaarlikse staatsrede skerp hierop gereageer deur te kenne te gee dat so ʼn stap tot ʼn kernoorlog aanleiding kan gee.

Dit is duidelik dat Europa gereed maak vir oorlog. Hoewel dit nie noodwendig beteken dat Wes-Europa binne die volgende paar jaar oorlog gaan beleef nie, beteken dit wel dat daar vrees vir ʼn globale konflik bestaan en die besef dat dit noodsaaklik is om wel vir so iets voor te berei, noodsaaklik raak. Hoewel Macron se uitspraak, wat ʼn duidelike gevaarlyn oorgesteek het, in die meeste Europese lande verwerp is, is dit ook so dat die meeste Westerse lande dit twee jaar gelede nog as ʼn taboe bestempel het om langafstandmissiele en tenks aan Oekraïne te skenk. Nou doen die meeste lande presies dit.

In Asië het die Chinese kuswag die afgelope twee weke ʼn ernstige gevaarlyn oorgesteek deur Taiwan se soewereiniteit verder te bedreig deur patrollies om die Kinmen-eilande, wat aan Taiwan behoort, uit te voer. China is sonder twyfel besig om op oorlog voor te berei.

Volgens die International Institute for Strategic Studies (IISS) in Londen is konflik wêreldwyd besig om toe te neem. Die getal oorloë en konfliksones in Afrika is die hoogste in dekades. Daar is tans 183 ernstige konfliksituasies wêreldwyd – die meeste in 30 jaar.

Dit is duidelik dat die VSA saam met ander Westerse lande besig is om hulle ekonomies, maar ook wat politieke en militêre samewerking betref, van China los te maak. Die spanning tussen Rusland en die Weste is tans selfs erger as by tye gedurende die Koue Oorlog. Hard gedefinieerde globale alliansies wat teen mekaar opgestel word, is besig om duideliker na vore te tree.

Iran se vermoë om kernwapens te vervaardig verbeter steeds. Noord-Korea se wapenprogram en samewerking met Rusland brei ook steeds uit. Die Amerikaanse senator Lindsay Graham het onlangs selfs sover gegaan om die gevaarlike uitspraak te maak dat hy wil sien dat die VSA oorlog teen Iran verklaar. Dit sal natuurlik onmiddellik tot ʼn enorme oorlog in die ganse Midde-Ooste lei.

Swak leierskap, weinig dialoog tussen die verskillende magsblokke en ʼn sterk militarisering van potensiële konfliksones herinner aan die gebeure in 1914 voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog. Sonder om alarmisties te klink oor die kanse vir globale konflik moet ons almal die huidige snelle eskalasie van die spanning in berekening bring.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

ENOCH

Minister Godongwana lewer vir die 3de keer sy begrotingsrede

Untitled design (2)

Hoëgehalte Brandstof van DSL Fuels – Beter vir Enjins, Beter vir Jou Besigheid

GraUysfXsAAcdKU

Solidariteit doen ‘n beroep op Ramaphosa om stappe aan te kondig om verhouding met VSA te herstel

Geld-1

Verbruikersprysinflasie nou op 2,8%

IMG-20220418-WA0228

Addo-park maak geskiedenis met die verskuiwing van 42 olifante

Ander Nuus Artikels

Screenshot 2025-05-21 123804
Nuuskommentaar: Internasionale Museumdag (18 Mei) se oproep tot ons
GreTTOMXoAArt_c
“Apartheidsbelasting” van die hand gewys
Grekf-sXIAACXI5
Politieke partye, organisasies reageer op die derde begroting
ENOCH
Minister Godongwana lewer vir die 3de keer sy begrotingsrede
Untitled design (2)
Hoëgehalte Brandstof van DSL Fuels – Beter vir Enjins, Beter vir Jou Besigheid

2024 begin al te veel soos 1914 voel


Luister nou

Volgende