20 Januarie 2025
1 502 mense is gedurende die 2024/2025-feestyd op die land se paaie in 1 234 voorvalle dood.
Die minister van vervoer, Barbara Creecy sê Suid-Afrika het nog ‘n ver pad om te stap om padveiligheid op te skerp, en om padongelukke- en sterftes te verminder. Die departement het vanoggend terugvoer gegee oor die afgelope feestyd, en hoe dit op die land se paaie gegaan het.
Die aantal sterftes is ‘n toename van 5,3% in vergelyking met dieselfde tydperk in die vorige jaar. 50 meer ongelukke, of 4,2%, het in die 2024/2025-feestyd plaasgevind in vergelyking met die 2023/2024-feestyd.
In ses provinsies is stygings in die hoeveelheid padsterftes aangemeld, naamlik KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Limpopo, die Vrystaat, die Noord-Kaap en Noordwes.
18 ernstige ongelukke, wat tot die dood van 134 mense gelei het, is aangemeld. In 53% van dié ernstige padongelukke was minibustaxi’s betrokke.
Volgens haar is sy uiters bekommerd oor wetteloosheid wat steeds voorkom. Sy sê in 87% van die ongelukke wat tot sterftes gelei het, was menslike gedrag betrokke, byvoorbeeld mense wat die padreëls oortree het, die spoedgrense oortree het, onder die invloed van drank bestuur het, en voetgangers wat paaie oorgesteek het.
711 184 boetes is in 997 padblokkades uitgereik:
- 23 607 boetes vir mense wat nie hulle veiligheidsgordels gedra het nie;
- 16 925 motoriste het hulle selfone gebruik;
- 16 527 voertuie was nie padwaardig nie;
- 3 840 motoriste het onder die invloed van drank bestuur
- 414 mense het die spoedgrense oortree. Een motoris is op 18 Desember op die N1 naby Honeydew in Gauteng in hegtenis geneem nadat hy 245 kilometer per uur gery het.