26 Oktober 2024
Die Afrikaanse skrywer, digter, en akademikus, prof Hans du Plessis is gisteraand in die ouderdom van 79 in sy huis in die Huis Eikelaan-aftreeoord in Potchefstroom oorlede.

Sy laaste boek Klein Wonderwerkie, sou op sy 80ste verjaarsdag op 15 Januarie 2025 bekend gestel word. Nie net ter viering van sy verjaarsdag nie, maar ook as deel van Afrikaans se honderdste herdenking as amptelike taal.
Sy seun, Hans sê sy pa het aan die begin van die jaar ʼn klein beroerte gehad, maar het daarna volledig herstel. Volgens hom het sy pa net na 22:00 gisteraand ‘n suster in die aftreeoord ontbied omdat hy nie lekker gevoel het nie. Hy het kort daarna inmekaar gesak en is net voor middernag oorlede.
Hy het bekendheid verwerf met sy akademiese en literêre werke en het talle pryse gewen.
Veral sy verwerkings van Psalms en Spreuke en gedeeltes uit ander Bybelboeke in Griekwa-Afrikaans was bekend en geliefd in die Afrikaanse gemeenskap. Die eerste van hierdie ses Griekwapsalms het in die digbundel Gewete van Glas verskyn.
Sy jeugboek Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou verskyn in 1991, en is as ‘n voorgeskrewe boek in skole gebruik.
Hy laat sy vrou van 56 jaar, Magdaleen, sy vier seuns en skoondogters, Rudolph en Marié, Louis en Jolandi, Hansie en Marthle, en Tjaard en Ilzé, asook nege kleinkinders agter.
“Sy onwrikbare geloof was onlosmaaklik deel van hom, en was ʼn goue draad deur sy lewe, asook sy prosa en poësie. Ons vind vrede en troos daarin dat hy nou by sy hemelse Vader is,” het Magdaleen geskryf.
“Ons pa se dood was vir ons baie onverwags. Sy lewe was woorde, maar woorde kan nie beskryf wat hy vir ons beteken het nie,” sê sy seuns.
Foto: Maroela Media