Luister nou

2024 gaan ons waarskynlik laat met ’n wêreld vol nuwe leiers

Deur Pretoria FM Nuusspan

Nuuskommentaar: 3 Junie 2024

Deur: Jaco Kleynhans

Mexiko het Sondag sy eerste vrouepresident verkies. Claudia Sheinbaum van die linkse Morena-party word president van een van die belangrikste ontwikkelende ekonomieë, wat natuurlik ook ’n belangrike buurland van die Verenigde State is in ’n tydperk waar die verhouding tussen ontwikkelde lande en ontwikkelende lande deur die globale magspel van groot moondhede soos Amerika en China gekenmerk word.

Later hierdie week sal meer as 400 miljoen Europeërs die geleentheid kry om parlementslede vir die Europese Parlement in Brussel te verkies. In twee EU-lidlande, België en Bulgarye, sal parlementêre verkiesings ook plaasvind wat tot wesenlike regeringsveranderings kan lei.

Daar bestaan ook vrae oor die aanwys van senior leiers by die EU, soos Ursula von der Leyen, tans die president van die Europese Kommissie, wil graag nog ’n termyn wil dien.

Intussen het ons verlede week uitgevind dat die direkteur-generaal van die Departement van Justisie en Veiligheid in Nederland, Dick Schoof, binnekort dié land se nuwe eerste minister sal wees nadat ’n koalisie van vier regse en sentrumregse partye ooreengekom het om ’n tegnokraat as eerste minister te benoem.

Die huidige Nederlandse premier, Mark Rutte, is benoem as nuwe sekretaris-generaal van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie, maar die president van Roemenië is ook benoem, en ten minste drie Navo-lidlande, Hongarye, Slowakye en Roemenië, is nog nie gereed om Rutte te steun nie.

Op 28 Junie sal die burgers van Iran ’n nuwe president verkies nadat president Ebrahim Raisi onlangs in ’n vliegongeluk dood is. Die groot vraag is of kiesers in Iran die geleentheid gegun sal word om vir ’n kandidaat wat ten gunste van hervormings is, te stem, of sal die verkiesing bloot uitspeel as ’n eensydige voortsetting van die harde en onverbiddelike benadering wat Raisi gevolg het.

Op 4 Julie sal die burgers van Engeland, Wallis, Skotland en Noord-Ierland na die stembus gaan om nuwe parlementslede vir die Verenigde Koninkryk te verkies. Dit gaan na alle waarskynlikheid die einde van die Konserwatiewe Party se regering beteken, en na alle verwagtinge sal die leier van die Arbeidersparty, Keir Starmer, die nuwe eerste minister word.

In September vanjaar sal kiesers in Oostenryk na die stembus gaan en ‘n nuwe regering met ‘n nuwe premier word ook daar verwag. Die belangrikste verkiesing later vanjaar is natuurlik die Amerikaanse verkiesing waar die huidige president, Joe Biden, ’n reuse-risiko in die gesig staar om moontlik uitgeskop te word.

Daar is ’n lang lys van ander lande, ook in Afrika, wat reeds vanjaar verkiesings gehou het of waar daar later vanjaar verkiesings plaasvind. Ook in ons buurlande, Namibië en Botswana, kan die winde van verandering die ou gevestigde politieke orde uitdaag.

Wat duidelik is, is dat kiesers wêreldwyd uiters gefrustreerd is met die status quo. Mense is bekommerd oor die toekoms. Inflasie het wêreldwyd mense se lewenstyle drasties geraak. Immigrasie is van Mexiko en die VSA tot in Europa, die Midde-Ooste en Afrika groot politieke kwessies. Kommer oor konflik en oorloë neem toe.

Teen die einde van 2024 gaan die politieke landskap nie net hier in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd dramaties verander het. Nuwe leiers sal oral verkies wees. Sal hulle egter daarin slaag om die wêreld veiliger en voorspoediger te maak? Die kanse daarvoor lyk tans nog baie onseker.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Placeholder_400x230

Heksejag op Oppenheimer en Ansara

Internasionale Perspektief nuut

Wie gaan die middeltermynverkiesing in die VSA wen?

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 23 Oktober 2026

Fotokrediet: BusinessTech

eThekwini beplan nuwe pretpark in Durban

ekonomie - Pretoria FM

Tesourie en Reserwebank se konsepreguleringsraamwerk word gepubliseer

Ander Nuus Artikels

Veterane
Veterane tree nou ook op YouTube aan
Willie 2
Willie Spies: Alle partye is kleiner partye
Ernst Roets
Roets aanvaar parlement se uitdaging
Placeholder_400x230
Heksejag op Oppenheimer en Ansara
Internasionale Perspektief nuut
Wie gaan die middeltermynverkiesing in die VSA wen?

Luister nou