Die DA se burgemeesterskandidaat in die Tshwane-metro, Cilliers Brink, sê die kragonderbrekings wat die hoofstad die afgelope week teister, is nie ’n verrassing nie.
“In Junie hierdie jaar het die elektrisiteitsdepartement die burgemeesterskomitee gewaarsku dat daar ’n katastrofiese mislukking van infrastruktuur in die vooruitsig is.”
Brink sê die elektrisiteitsdepartement het gereken dat dit in die winter kon gebeur en dat, as ’n transformator by een van die toevoerstasies die gees gee, dit kan lei tot baie lang kragonderbrekings wat moeilik is om reg te maak.
“En dit is presies wat gebeur het.”
Brink sê die verslag het ook gewaarsku oor ’n agterstand wat instandhouding betref en dat die regerende koalisie, wat uit die ANC, EFF en ActionSA bestaan, met hulle eerste aansuiweringsbegroting geld geneem het wat aangewend kon word vir die stabilisering van substasies en bestee het aan die betaling van fakture van watertenkkontrakteurs: die watertenkermafia, soos Brink hulle noem. Diegene wat, volgens hom, onregmatig baat by die voorsiening van watertenkwaens in gebiede van die stad wat sonder water is.
“Die munisipale bestuurder, Johann Mettler, het destyds toe die besteding van R777-miljoen aan die lig gekom het aan die einde van Nasiphi Moya (ActionSA-burgemeester in die Tshwane-metro) se eerste boekjaar as burgemeester, die spesiale ondersoekeenheid gevra om ondersoek in te stel na die situasie.”
Brink sê egter hy is nie oortuig dat die spesiale ondersoekeenheid die kapasiteit het om ’n behoorlike ondersoek in te stel nie. Volgens Brink is daar ernstige ongerymdhede wat met watertenkwaens verband hou wat ondersoek moet word. Dit strek van wie die watertenkwaens besit tot bewerings wat mense in Hammanskraal maak dat ’n wyksraadslid bepaal waar dié tenkwaens moet stop.
“Elke rand wat jy op ’n watertenker spandeer in plaas van om pype te vervang gaan maak dat jy nog ’n rand spandeer op ’n watertenker in die volgende boekjaar.”
Dinge was nie altyd suur tussen Brink en Moya nie. In die tyd toe sy Brink se onderburgemeester was, het hulle, ten minste op die oog af, goed oor die weg gekom. Maar Brink sê hy was nie verras toe Moya die ANC en EFF gehelp het om hom tot ’n val te bring nie.
“Nee, ek was nie verras nie. Die eerste gesprek daaroor wat ek met Nasiphi gehad het, was toe die ANC ’n ooreenkoms met ActionSA in Johannesburg bereik het. Mense vergeet daai. Die ooreenkoms in Johannesburg wat ek dink uiteindelik vir Dada Morero burgemeester gemaak het, het gekom van ActionSA se steun.”
Brink sê dat hy in daardie stadium vir Moya gevra het of dit ’n aanduiding is dat die koalisie in die Tshwane-metro tot ’n val gaan kom. Volgens Brink het Moya hoog en laag gesweer dat dit nie die geval is nie aangesien hulle goed saam werk en baie saam bereik.
“Ek moet vir jou eerlikwaar sê dat my indruk was dat as dit van Nasiphi Moya afgehang het, sy nie sou gedoen het wat uiteindelik gebeur het nie.”
Brink sê ActionSA se mag setel in die “stigter-eienaar” Herman Mashaba en dat dit daartoe lei dat die gesprekke met die partyverteenwoordigers op plaaslike vlak niks beteken nie.
“Dit is ’n nul op ’n kontrak. Hulle kan nie enige vaste onderneming met jou maak en dit dan deurvoer nie. Want wanneer die leier besluit dinge moet verander, dan verander dit.”
Volgens Brink is dit vir hom moeilik om ActionSA as ’n moontlike koalisievennoot te oorweeg.
Brink sê alhoewel hy nie nou al oor koalisies wil praat nie en mik vir ’n wen in Pretoria is samewerking met ander partye iets wat wel bespreek sal word.
“Ons sal ná hierdie verkiesing moet bepaal watter kaarte die kiesers vir ons gegee het om mee te onderhandel.”
Brink sê dat hy nooit van voorneme was om terug te keer parlement toe nadat hy as burgemeester uit die kussings gelig is nie.
“Hierdie is ’n uiters betekenisvolle projek. Baie meer betekenisvol as om in die parlement te sit. Of ’n adjunkminister te wees. Die metrorade gee mens ’n geleentheid om te wys dat Suid-Afrika beter regeer kan word. Dat daar ’n alternatief is. Dat daar ’n gemeenskap met gedeelde belange en waardes bestaan wat behoorlik bedien kan word deur mense wat nie hulle eie belang voorop stel nie.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-88-16-Okt-2026.pdf