Luister nou

Daar is nie ’n “Afrikanerdebat” nie

Deur James Kemp

Daar is die afgelope tyd baie geskryf en baie berig oor die sogenaamde “Afrikanerdebat”. Die debat tussen, soos die term nou algemeen gebruik word, linkse en regse Afrikaners. Dit is belangrik om net eers duidelik te definieer wat met die twee terme bedoel word aangesien “links” en “regs” soms baie maklik na weerskante toe as etikette gebruik word.

Die “regse” Afrikaners kan beskryf word as diegene wat betrokke is by die oprigting van ’n Afrikaanse Universiteit, Akademia. Hulle litigeer plaaslik teen onder meer wetgewing wat persone op grond van ras uitsluit, en hulle argumenteer dat plaasmoorde as ’n prioriteitsmisdaad geklassifiseer moet word. Hulle skakel ook internasionaal oor kwessies wat na hulle mening belangrik is. Alhoewel die groepering die Solidariteit Beweging insluit, is dit nie beperk tot organisasies soos AfriForum nie en moet Ernst Roets se Lex Libertas ook hier vermeld word.

Die “linkse” Afrikaners het prominensie gekry nadat hulle ’n ope brief gepubliseer het waarin hulle kapsie maak teen die Amerikaanse president, Donald Trump, se besluit om vlugtelingstatus aan Afrikaners toe te ken. Hulle het daarna ook te velde getrek teen ’n Afrikaanse Universiteit uit die Solidariteitstal en glo nie dat plaasmoorde spesiale vermelding verdien nie. Dit is ook uit dié groepering se geledere wat die plan gekom het om 3 000 sokkerballe in te samel in reaksie op Lex Libertas se 3 000 kruise ter herdenking van die slagoffers van plaasmoorde, wat die naweek in Washington opgerig word. Soos met die “regses” is dit nie moontlik om hierdie sogenaamde “linkses” in een kamp te plaas nie, en die groepering sluit in die nuut gestigte Afrikaners vir Suid-Afrika, Dialoog vir Aksie Netwerk en die Betereinders.

Ek is minder huiwerig om na die “linkse” groep as links te verwys. My waarneming is dat die sogenaamde linkses hulle inderdaad polities links posisioneer het met hulle kritiek op ’n Afrikaanse universiteit en hulle ondersteuning van rasregulerende wetgewing. Dit blyk dat hulle nie ’n plek sien vir Afrikaanse onderrig nie, maar wel vir wetgewing wat voorsiening maak vir die bevoordeling op grond van ras.

Op hulle eie sosialemediaplatforms is die uitlating al gemaak dat ’n universiteit soos Akademia te “geïnsuleer” is om studente gebalanseerd vir die lewe voor te berei en dat raswetgewing nodig sou wees om die ongeregtighede van voor 1994 reg te stel. Hulle reaksie op die kritiek wat die “regses” (en die VSA-regering) op problematiese gebeure in Suid-Afrika het, kan kortliks as volg opgesom word:

  1. Dat daar raswetgewing is, MAAR dat dit nodig is.
  2. Dat daar plaasmoorde is, MAAR dat Suid-Afrika in ieder geval baie ander geweldsmisdaad beleef.
  3. Dat daar R0-vergoeding vir eiendom aangebied word, MAAR dat dit tans in die howe betwis word of darem nie onbillik deur die regering toegepas sal word nie.

Met die verskyning van die “Nie in ons naam”- ope brief was ek verbaas om sommige van die name op die brief te sien, aangesien ’n hele paar van hulle al hulle ongemaklikheid met die term “Afrikaner” uitgespreek het of ’n bedanking vanuit dié kultuurgroep ingedien het.

Gesonde gesprekvoering is belangrik en dit is goed dat alle stemme en opinies die geleentheid kry om gehoor te word. Of hulle nou reg of verkeerd is, of hulle min of baie is, ’n gesprek is altyd gesond. Daar is egter twee mites wat aandag moet geniet:

Mite 1: Die regses is die onverdraagsames

Alhoewel lede van beide hierdie groepe soms onverdraagsaamheid op sosiale media ten toon stel, is my waarneming dat die onverdraagsaamheid veral onder die linkse groepering prominent is. Een voorbeeld is die aanbring van ’n rooi kruis op die voorkop van ’n opponent. Dit was al met Dirk Hermann en Ernst Roets die geval. En alhoewel daar geargumenteer word dat die rooi kruis op ’n voorkop nie aanhitsing tot geweld is nie, lyk dit alte veel soos ’n dreigement. Terwyl Roets dus wit kruise plant oor plaasmoorde, word daar ’n rooi kruis op sy voorkop geplant.

’n Ander persoon uit daardie geledere reken dat daar ’n Nurembergstylverhoor moes wees ná 1994 want “miskien as hulle ouens soos Adriaan Vlok en Eugene Terre’Blanche gesien hang het, sou hierdie kak nie gebeur het nie”.

Mite 2: Daar is ’n Afrikanerdebat

Die indruk word die afgelope tyd op sosiale media en nuusplatforms geskep dat hier twee groepe in Afrikanergeledere is wat ewe veel steun geniet, maar verskillende standpunte handhaaf. As daar egter gekyk word na die standpunte wat deur die meerderheid Afrikaners gehuldig word, sien ons dat hulle grootliks met die sogenaamde “regses” saamstem oor die belangrikheid van ’n Afrikaanse universiteit en die brutaliteit van plaasmoorde.

Die Betereinders se eie navorsing wys daarop dat die oorgrote meerderheid van Afrikaners AfriForum se werksaamhede ondersteun en plaasmoorde as ’n reuseprobleem beskou. Die afgelope week vertel die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel my dat hulle binnekort navorsing gaan publiseer wat daarop dui dat AfriForum se werksaamhede baie steun onder die meeste swart mense asook mense van ander bevolkingsgroepe geniet. Die linkses is dus nie net uit voeling met die meerderheid Afrikaners nie, maar ook die ander bevolkingsgroepe van Suid-Afrika.

Ten spyte van die talle plasings op sosiale media en nuusberigte oor die tema is daar nie werklik ’n Afrikanerdebat nie. Daar is Afrikanerkonsensus en ’n randfiguurrumoer. ’n Konsensus dui natuurlik nie op absolute eenstemmigheid oor alles wat in die land gebeur nie, maar wel dat die meerderheid Afrikaners oor die belangrikste kwessies saamstem. Dit beteken ook nie dat die randfigure se standpunte oor die hoof gesien moet word nie. Goeie gesprekvoering is afhanklik van die insluiting van alle standpunte. Ons moet egter ophou om te maak of hier debatvoering plaasvind tussen twee groepe met ewe veel steun. Dit is bloot nie waar nie. Die meeste Afrikaners is lankal verby die debat wat die linkses nou wil voer.

Kemp is die stasiebestuurder van Pretoria FM.

Gewilde Nuus

Fotokrediet: Netwerk24

15 Nuwe kruise by Witkruismonument opgerig

Bergview

Oudskoolhoof: Aantygings het blywende skade gelaat

BKS-inenting

Privaatsektor kry groen lig om BKS-entstof in SA te vervaardig

Medies - Netwerk24

Raad van Gesondheidsorgfinansiers vra hervorming

Siviwe Gwarube

Implementering van handboekkatalogus duur voort ondanks haakplekke

Ander Nuus Artikels

horses vs bikes 4
NDBV gryp in by perde-teen-motorfietse-uitdaging
Afrikaner-vlugtelinge
Trump-regering wil tot 17 500 Afrikaner-vlugtelinge in VSA toelaat
Fotokrediet: Netwerk24
15 Nuwe kruise by Witkruismonument opgerig
Bergview
Oudskoolhoof: Aantygings het blywende skade gelaat
BKS-inenting
Privaatsektor kry groen lig om BKS-entstof in SA te vervaardig

Luister nou